Sharks byt Cheetahs seer in die Haaitenk

As jy saam met die groot honde wil blaf, moet jy ʼn betroubare skopper hê en slotte wat jou besit in die lynstane kan verseker.

Dit het die Vrystaat-Cheetahs Vrydagaand op Kingspark in Durban tot hul spyt agtergekom toe hulle met 19 – 13 deur die Sharks in die Superrugby Unlocked-kragmeting geklop is.

Die eerste punte in dié saai wedstryd vol foute is eers in die 33ste minuut deur die Sharks-losskakel, Curwin Bosch, met ʼn strafdoel aangeteken nadat albei spanne verskeie kanse verspeel het om die telbord met strafdoele aan die rol te hou, want hulle wou eerder drieë druk nadat hoek toe geskop is.

Ja, as jy slotte het (dalk was dit die haker se skuld) wat besit kan verseker, is daar nie veel mee fout te vind nie, maar ai, as jy darem vyf, ses kanse verspeel, skakel jy sekerlik na Plan B oor. Dit het vir albei spanne gegeld.

Nou besef ʼn mens wat die waarde van die Cheetah-slot Walt Steenkamp is wat van Maandag af by die Bulls ingeval het.

Ook wat die Boksenter Frans Steyn beteken nadat hy Vrydagoggend weens ʼn liesbesering aan die span onttrek is. Sonder Steyn was daar nie baie goeie samespel en ritme agterlangs nie.

Die verlies van die vuurvreter-losvoorspeler Jasper Wiese, wat koers gekies het oorsee, het ook seer uitgestaan.

Boonop het die losskakel, Tian Schoeman, ʼn paar skoppe pale toe verbrou, wat ʼn verskil kon gemaak het.

Dan het die Sharks se wedstrydplan om Bosch gewentel wat die Cheetahs se heelagter, Clayton Blommetjies, en die twee kort vleuels, Malcolm Jaer en Rosko Specman, met hoë skoppe gepeper het… wat hulle gesukkel het om onder beheer te bring.

Bosch het die Cheetahs mank geskop. As dit nie pale toe was nie, was dit met lang lynskoppe en taktiese skoppe.

Die senter Marius Louw het die voordeellyn goed aangeval en voorlangs was darem ʼn paar opflikkerings.

Die Sharks is nou tweede op die puntelys nadat hulle hul neuse voor die Cheetahs gekry het.

Hulle is nog nie die afgeronde produk nie, maar as jy swak speel en steeds wen, is dit kenmerke van ʼn goeie span.

Puntemakers:

Sharks 19 (6): Drie: Madosh Tambwe. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (4).

Vrystaat-Cheetahs 13 (0): Drie: William Small-Smith. Doelskop: Tian Schoeman. Strafdoele: Schoeman (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frans

Die Cheetahs kon ‘n paar keer goeie bewegings nie af rond nie.Dit bewys maar weer as ‘n span ‘n paar van sy staatmakers verloor dan sukkel die span.Oor een ding is ek bly en dit is dat Suid Afrikaanse spanne nie teen NZ-spanne speel nie,want plaaslike rugby is nie baie goed nie as ‘n mens dit vergelyk met die NZ-kompetisie.
Ook is ek nie oortuig dat die vier gekose spanne die Pro 16 kompetisie gaan wen nie.

Dup

As ñ “klein” unie soos die Vrystaat hulle nr 1 slot,nr 1 flank/agsteman en nr 1 senter vir n wedstryd verloor,dan lol dit.Jou nr 10 sukkel met sy skoppe en die vleuels en heelagter is swak onder hoë skoppe.Glad nie skeidsregter se skuld nie.