Sharks byt vas deur Lions te troef

Foto: Sharks/Facebook

Dit was nogal ironies dat dit Vrydagaand op Kingspark in die doodsnikke van die Superrugby Unlocked-wedstryd tussen die Sharks en Lions begin reën het, want dit kan vorentoe hopelik ʼn drieëdroogte breek.

Die Sharks het die reeks se eerste wedstryd waarna so baie uitgesien is, met 19 – 16 gewen nadat die tuisspan rustyd met 13 – 3 voor was.

Maar dit was maar ʼn saai affêre, want albei spanne kon net een drie druk en dit was besaai met foute, ʼn magdom strafskoppe wat by die losskrums afgestaan is en ʼn gebrek aan ondernemingsgees.

Dalk verwag ʼn mens te veel te vinnig van die spelers nadat hulle maande lank ook in afsondering was en nie kon oefen nie.

Dit gaan nog ʼn hele paar wedstryde duur voordat alles weer klopdisselboom is; ʼn mens sal dit maar moet aanvaar.

Nadat die Sharks vroeg die voortou geneem het ná ʼn drie deur Werner Kok en hulle heeltemal oorheers het, kon hulle nie afrond nie.

Hulle was met 13 – 0 voor, hulle het tuis gespeel, het momentum gehad, besit en gebiedsvoordeel oorheers, maar aan afronding het dit ontbreek.

Die Lions se enigste drie is in die tweede helfte deur die vleuel Jamba Ulengo gedruk ná ʼn puik dwarsskop deur Elton Jantjies.

In ʼn stadium was die kragmeting met 16 elk gelykop, voordat Curwin Bosch weer vir die Sharks raakgekorrel het.

As Jantjies toe nie met ʼn maklike strafskop naby aan die einde misgekorrel het nie, kon die wedstryd gelykop geëindig het. As die Lions, wat reg aan die einde ʼn vryskop vir ʼn skrumoortreding gekry het, toe ’n drie kon druk, kon hulle gewen het.

As Rabz Maxwane nie reeds vroeg in die eerste helfte oor die kantlyn gestamp is nadat hy feitlik oor die doellyn was nie, kon sake dalk anders verloop het.

Maar as is verbrande hout en sou hulle verdien het om te wen?

Vir die wenspan het Sikhumbuzo Notshe baie goed vertoon. Pepsi Buthelezi is ook balvaardig en Curwin Bosch, hoewel hy gebreke het, gaan nog baie wedstryde wen.

Vir die Lions bly die vraag hoekom hulle eers in die tweede helfte vlamvat.

Puntemakers:

Sharks 19 (13):

Drie: Werner Kok. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch (4).

Lions 16 (3):

Drie: Jamba Ulengo. Doelskop: Elton Jantjies. Strafdoele: Jantjies (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans ·

As is verbrande hout. Hierdie twee spanne gaan sukkel teen spanne wat reeds gevestigde kombinasies
het. Waarom SARU so gretig is om hul in die Pro 16 te laat speel en nie te wag om te sien wat die
uitslag van die Superrugby en Curriebekerkompetisie is,sal net SARU weet.
Soos hul nou speel gaan hul vasval teen al die NZ-spanne.

JBN ·

Foeitog. Ek hoop hierdie Anc kwotaspanne verloor ver teen die oorsese spanne.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.