Sharks draai die gety teen Walliese Ospreys

Grafika: Sharks/Facebook

Wanneer ʼn rugbyspan ʼn losskakel het wat oorheers, is daar min dinge wat hom van ʼn oorwinning af gaan weghou. Vrydagaand in Swansea was die Sharks se Boeta Chamberlain die kersie op die koek deur sy span op die wenpad te plaas.

Die Sharks het die kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap met 27-13 teen die Walliese Ospreys gewen nadat die rustydtelling nog met 6-6 gelykop was. In die tweede helfte het die Sharks beheer oorgeneem en die ys vir die res van die seisoen gebreek.

Chamberlain, wat ook met drie skepdoele geslaag het, het ʼn puik afgeronde vertoning gelewer. Sy lang lynskoppe en vermoë om sy snellers weg te stuur, gaan dit vir die afrigter, Sean Everittt, baie moeilik maak om die Springbok Curwin Bosch weer bo hom in te span.

Die 22-jarige Chamberlain, wat in die Paarl op Boishaai op skool was, het kalmte uitgestraal en met sy grootwedstryd-temperament beïndruk.

Die wedstryd het op ʼn laagtepunt vir die Sharks begin toe die Ospreys se losskakel, Gareth Anscombe, binne twee minute met sy span se eerste strafdoel geslaag het. Nadat die Sharks ʼn paar keer oortree het en die skeidsregter, die Ier Frank Murphy, hulle erg onder sy fluitjie laat deurloop het, was dit byna ʼn geval van “hier gaan ons alweer”.

Maar die Sharks het hulle reggeruk en nie toegelaat dat hulle deur enige negatiwiteit ontspoor word nie deur hul eerste oorwinning ná twee verloorslae in die VRK-reeks behaal.

Selfs toe die gevaarlike vleuel Thakir Abrahams vroeg in die eerste helfte beseer is en deur Werner Kok vervang moes word, het dit geen invloed op hul vertoning gehad nie.

Voorlangs het die Springbokstut en kaptein van die aand, Thomas du Toit, die haker Kerron van Vuuren, die flank Gerbrandt Grobler en die agtsteman Henco Venter, die Ospreys baie probleme besorg.

Afgesien van Chamberlain, het die veteraan-skrumskakel Ruan Pienaar, die senter Jeremy Ward en die vleuel Marnus Potgieter die oog getref.

Ja, die Ospreys is een van die swakker spanne in die reeks, maar hulle is van hul voete af gespeel deur die begeesterde Sharks. Die Sharks het hulle onder geweldige druk geplaas en in foute gedwing en dit het nooit gelyk of hulle wou, of kon wen nie.

Punte: Sharks 27 (6): Drieë: Jeremy Ward, Marnus Potgieter. Doelskop: Ruan Pienaar. Strafdoele: Pienaar (2). Skepdoele: Boeta Chamberlain (3).

Ospreys 13 (6): Drie: Gareth Thomas. Doelskop: Stephen Myler. Strafdoele: Gareth Anscombe (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.