Sharks dring deur, maar nou wag die Crusaders

Dis die Sharks teen die Crusaders in Christchurch en die Lions teen die Jaguares op Ellispark in die kwarteindronde van vanjaar se Superrugbyreeks.

Dit volg nadat die Sharks Saterdag op Kingspark die Jaguares met 20-10 geklop het om agtste op die algehele puntelys te eindig.

Die Sharks en Rebels (albei 36 punte) het saam agtste geëindig, maar die Sharks se punteverskil (-5 teenoor -21) was beter.

Die Jaguares, wat die eerste keer in ʼn uitspeelwedstryd betrokke sal wees, sal na alle waarskynlikheid nog ʼn week langer in die land bly om die Lions op Ellispark te pak.

In die twee ander kwarteindwedstryde pak die Waratahs, wat die Australiese afdeling gewen het, die Highlanders in Sydney en speel die Hurricanes in Wellington teen die Chiefs.

Kan die Sharks, geoordeel op hul oorwinning teen die Jaguares, die Crusaders verras?

Nee, want hulle speel teen ʼn amperse All Blacks-span wat weet hoe om druk in uitspeelwedstryde te hanteer en oënskynlik nie swak plekke het nie, óf dit baie goed verbloem.

Die Sharks is van hul voete af (al was die toestande ongunstig en die bal nat en glibberig) deur die Jaguares gespeel.

Maar die Jaguares se groot fout is dat hulle eendimensioneel was, hulle het besit behou deur hordes aangeë, maar hulle kon baie keer nie oor die voordeellyn kom nie.

Onthou gerus ook dat die Jaguares van hul sleutelspelers laat rus het en dat die toetslosskakel, Nicolás Sánchez, sy skopskoen baie meer sou ingelê het.

Nietemin het die Sharks hul doel bereik en hoewel hulle ʼn baie steil bult het om uit te klim, is daar genoeg balvaardige spelers om beter as teen die Jaguares te vaar.

Maar dan sal hulle die snellers meer moet gebruik, meer ondernemingsgees aan die dag moet lê en nie net staat maak op die pak en die skakelpaar van Louis Schroeder en Robert du Preez om hulle op die voorvoet te hou nie.

In vroeër jare kon dit dalk nog gewerk het. Maar in 2018? Ek glo nie dis meer so nie.

Uitblinkers aan die Sharks se kant was die haker, Akker van der Merwe (hoeveel geskenke gaan hy nog as speler van die wedstryd ontvang?) en André Esterhuizen.

Dan het Philip van der Walt hard gewerk, Kobus van Wyk het sy vaart en afronding gewys en Curwin Bosch het ʼn paar goeie lopies ingekry.

Puntemakers ‒

Sharks (13) 20 Drieë: Akker van der Merwe, Kobus van Wyk. Doelskoppe: Robert du Preez (2). Strafdoele: Du Preez (2).
Jaguares (3) 10: Drie: Sebastian Cancelliere. Doelskop: Joaquín Díaz Bonilla. Strafdoel: Bonilla.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietman ·

Sharks terg hulleself – spaar toeruitgawes en gee die wedstryd vir Crusaders – mors almal se tyd met julle geploetter.

Frans C ·

En hoe goed of sleg het die spanne gevaar?
‘Overall Standings’
1 Crusaders speel 16 wen 14 87%
2 Chiefs speel 16 wen 11 69%
2 Hurricanes speel 16 wen 11 69 %
• 3 Waratahs speel 16 wen 10 62%
3 Highlanders speel 16 wen 10 62%
4 Jaguares speel 16 wen 9 56%
4 Lions speel 16 wen 9 56%
5 Rebels speel 16 wen 7 44%
5 Sharks speel 16 wen 7 44%
5 Brumbies speel 16 wen 7 44%
6 Bulls speel 16 wen 6 37%
6 Stormers speel 16 wen 6 37%
6 Reds speel 16 wen 6 37%
7 Blues speel 16 wen 4 25%
8 Sunwolves speel 16 wen 3 19%
Van al die spanne is dit slegs die Crusaders,Lions,Waratahs,Hurricanes en Chiefs wat positiewe punte totale het,wat dus meer punte aangeteken het as wat teen hul behaal is.
• Die Sharks het die kleinste negatiewe totaal,nl 5,442 punte is teen hul aangeteken teenoor 437 van die Sharks. Die Crusaders het die grootste positiewe totaal,nl 247,teken 542 punte aan,met 295 teen hulle. Statisties gesproke is daar geen span wat die span kan onttroon nie.Kan die Sharks verras? Die Lions sal stukke beter moet verdedig as teen die Bulle. anders gaan die Jaquares die halfeind haal

bollie ·

Slegs 7 spanne het meer wedstryde gewen as wat hulle verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.