Sharks eerste SA Superrugbyspan in Hongkong

Die gewese All Black-superster Dan Carter in aksie vir Racing 92 in die vorige Natixis-bekerkragmeting teen die Highlanders in Hongkong. (Foto: HKRU)

Die Sharks word aanstaande jaar die eerste Superrugbyspan uit Suid-Afrika wat in Hongkong in aksie sal wees, het die Hongkongse Rugbyunie (HKRU) Sondag bekend gemaak.

Luidens ʼn verklaring wat in Hongkong uitgereik is, meet die Durbaniete Saterdag 3 Februarie op die Aberdeen-sportterein kragte teen die beroemde Franse klub Racing 92.

Racing is tans derde op die Franse Top14-liga se punteleer, en een van die gunstelinge om dié titel wat hy in 2016 gewen het te herower.

Die klub beskik oor spelers soos die Springbok-losskakel Pat Lambie, en die Suid-Afrikaans gebore losvoorspelers Bernard le Roux en Antonie Claassen, wat albei toetsrugby vir Frankryk gespeel het.

Die Franse bankgroup Natixis borg Racing sedert 2007 en die Hongkong-voetbalklub sedert 2014.

Daar word tweejaarliks om die beker gespeel en dis die vierde keer dat dit op die spel geplaas word.

Racing is die houer daarvan nadat hy die Nieu-Seelandse Superrugbyspan Highlanders in 2016 met 45-38 verslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.