Sharks en Lions sorg vir 8 drieë

Foto: GB Jordaan.

Die Sharks-droom om met die louere in die Reënboogbeker weg te stap het ’n hupstoot gekry toe hulle die Lions vanmiddag met 33–21 op Emirates Airline-park getroef het.

Met die terugkeer van die Springbokvleuel Makazole Mapimpi en met spelers soos Anthony Volmink en Manie Libbok in hul beginspan, is daar baie vooraf oor die Sharks se slaankrag gepraat.

Tog was dit die voorspelers wat eerste hul stemme dik gemaak het. Kerron van Vuuren (haker) het die Durbaniete se eerste twee drieë gedruk, terwyl Phepsi Buthelezi die Sharks se eerste helfte afgerond het.

Of so het hulle gedink …

Vyf minute ná die sirene vir rustyd geloei het, het die Lions ’n goeie slag geslaan toe Len Massyn vir ’n drie oorgebars het.

Sy poging het vir ’n skielike – en kortstondige – Lions-herlewing gesorg. Mapimpi het weliswaar sy talent in hierdie tydperk onderstreep toe hy sy pad na die doellyn oopgedans het, maar PJ Botha het kort daarna die Lions se derde drie gedruk.

Foto: GB Jordaan.

Boeta Chamberlain se verskyning op die veld het weer nuwe lewe in die Sharks geblaas en sy toorkuns het vir Anthony Volmink weggestuur vir ’n goeie drie. Dit was die laaste spyker in die Lions se doodskis.

Hoewel die Johannesburgers moedig probeer het, was hulle teen die einde hul eie grootste vyande. Hulle het uitstekende aanvalsgeleenthede gehad en veral hul agterspelers het met ’n paar indrukwekkende lopies vorendag gekom, maar selfs die beste lopie help niks as iemand die bal laat val nie.

Die Sharks het nou 16 punte op die punteleer en volgende naweek se wedstryd teen die Bulls kan deurslaggewend in die reeks wees.

Puntemakers:

Sharks: Drieë: Kerron van Vuurren (2), Phepsi Buthelezi, Makazole Mapimpi en Anthony Volmink. Doelskoppe: Manie Libbok (3) en Boeta Chamberlain.

Lions: Drieë: André Warner, Len Massyn en PJ Botha. Doelskoppe: Jordan Hendrikse (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Swak verdeidiging aan Leeus kant dra by tot Sharks drieë.As dit nie verbeter nie wag daar groot slae in die Super 14.Vandat Ackerman en ander weg is gaan Leeusrugby agteruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.