Sharks benut hul kanse, Lions nie

Verdedig goed en benut dan jou kanse ten volle. Dít is die les wat die Sharks Saterdagaand op Kingspark vir die Lions geleer het.

Vir feitlik ʼn uur was die Lions in totale beheer. Verspeelde kanse en die besluit om skrums en lynstane te benut eerder as om pale toe te skop, het hulle net soveel as die aanvanklik ondeurdringbare verdediging van die Sharks gekos.

Die KwaZulu-Natallers het die wedstryd met 31-24 gewen nadat hulle met rustyd met 11-21 teen die veel beter Lionsspan agter was. Ná rustyd kon Warren Whiteley-hulle egter net ʼn enkele strafdoel byvoeg terwyl die Sharks met twee doele en ook twee strafdoele 20 punte bygevoeg het.

Daar was met rukke baie goeie rugby deur albei spanne. Die Sharks, toe hulle ná die 50ste minuut aan die hardloop gaan nadat plaasvervangers op die veld gebring is, was egter meer dringend op die aanval en klinies in hulle uitvoering.

Die Lions het in vele fasette oorheers: besit, meters gehardloop, lynstane afgeneem, die skrums. Hulle moes veel minder duikslae uitvoer (78 teenoor 123) maar het 17 keer misgeduik teenoor 14 van die Sharks, het meer besit aan die Sharks omgekeer, en klaarblyklik besluit om eerder te wen deur drieë te druk as met skoppe.

In die een of ander stadium moes Whiteley darem gesien het die verdedigingsmuur is ondeurdringbaar.

Die skrums, waar Malcolm Marx ongetwyfeld ʼn verskil maak, het aan die Lions behoort. Dylan Smith het die nuwe Bok Thomas du Toit veral aanvanklik swaar  laat leef, en Ruan Dreyer het Beast Mtawarira ʼn keer of twee laat knak.

Maar toe verander Swys de Bruin sy voorry, die eenheid is verbreek en die Sharks begin in dié faset baljaar.

Van die onlangs Springboktoetsspelers was Akker van der Merwe die beste. Hy was oral op die verdediging, by die afbreekpunte, met aansluiting en inklimwerk.

André Esterhuizen was self in die tweede helfte toe die Sharks begin hardloop het, baie goed; Elton Jantjies het die spoke van Nuweland met hoofsaaklik goeie diens en opsies besweer; Du Toit was in die vaste los en met sy agterlynskakeling goed; en Franco Mostert, soos altyd, het sy hart uitgespeel terwyl sy slotmaat Marvin Orie drie van die Sharks se lynstaaningooie gewen het.

Hy word nou ʼn spesialis daarmee!

Die Lions het vir net sowat 20 minute nie goed gespeel nie. Tot in daardie stadium was hulle goed maar effens stiksienig en eendimensioneel met hulle halsstarrigheid om ander opsies te verken.

Daar sal plan gemaak moet word in hulle laaste wedstryd teen die Bulls wat hulle, soos sake nou staan, sal móét wen om die Suid-Afrikaanse afdeling te beklink.

Puntemakers ‒

Sharks (21) 24: Drieë: Dan du Preez, André Esterhuizen, Lwazi Mvovo. Doelskoppe: Robert du Preez (2). Strafdoele: Robert du Preez (4).
Lions (11) 24: Drieë: Ruan Combrinck, Cyle Brink, Kwagga Smith. Doelskoppe: Elton Jantjies (3). Strafdoel: Jantjies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.