Sharks in eindstryd, Bulle se droom verby

Curwin Bosch – korrel reg ingestel. (Foto: YouTube)

Sending byna voltooi.

Die Sharks het Saterdagmiddag op Kingspark tot aanstaande Saterdag se eindstryd van die Curriebekerreeks deurgedring toe hulle die Blou Bulle met 37-27 geklop het nadat hulle rustyd reeds met 28-13 voor was.

Dit was nie ʼn wedstryd wat te lank onthou sal word nie, want daar was te veel hanteerfoute, soms ʼn gebrek aan besluitneming en te min ondernemingsgees. Maar wie gee nou eintlik om, want dit was ʼn uitspeelwedstryd, die hoofdoel was immers om seker van die eindstryd te maak.

Die Sharks het wurgrugby gespeel, hulle het die Blou Bulle se gebrek aan ervaring deeglik uitgebuit.

Eintlik moes ʼn mens dit verwag het, want daar gaan nog baie water in die see moet loop voordat die Bulle weer een van die groot kragte in Suid-Afrikaanse rugby sal word, en daar sal bly.

Die afrigter, John Mitchell, het nie verwag om só gou korttermyn-sukses te behaal nie. Hy kyk na die groter prentjie, hy wil die spelers se vaardighede en besluitneming verander, hy wil diepte bou, hy wil Springbokke kweek.

Die Sharks het verdien om te wen, omdat hulle baie druk met hul opskietverdediging op die Bulle se agterlyn geplaas het. Hul voorspelers, met die twee vurige Du Preez-broers, Jean-Luc en Daniël, aan die spits, het saam met die ervare Keegan Daniel, Ruan Botha en Thomas du Toit die Bulle geboelie. Hulle het die Bulle se lynstane ontwrig, baie meer gedryf en gemaal, en die Bulle se agterste driehoek is nie veel kanse gegee nie.

Dan was die Sharks se losskakel, Curwin Bosch, se korrel reg ingestel en hy het met al sewe skoppe pale toe geslaag, wat ʼn skepdoel ingesluit het.

Toe die plaasvervanger-skrumskakel, Michael Claassens, ook nog in die tweede helfte opgestuur is, is die bal voor die voorspelers gehou.

Kan die Sharks die eindstryd wen?

Wel, hulle speel tuis, hulle is bestendig sonder om flambojant te wees, hulle het in Kobus van Wyk, Lukhanyo Am en S’bu Nkosi (daar word in Durban gehoop dat sy besering nie te ernstig is nie) spelers wat kan afrond, ʼn skakelpaar wat kan oorheers en ʼn plaasvervangersbank wat impak maak.

Wat meer wil ʼn mens eintlik hê?

Die puntemakers –

Punte: Sharks 37 (28) – Drieë: Lukhayno Am, Kobus van Wyk, Louis Schroeder, Ruan Botha. Doelskoppe: Curwin Bosch (4). Strafdoele: Curwin Bosch (2). Skepdoel: Curwin Bosch.

Blou Bulle 27 (13) – Drieë: Pierre Schoeman, Ivan van Zyl, Burger Odendaal. Doelskoppe: Marnus Boshoff (3). Strafdoele: Boshoff (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Die Bulle se ondersteuners kan trots wees op hul span want hul het veel beter gevaar as wat vewag is.Hul het twee ‘sagte drieë’ teen hul gekry en kon met bietjie geluk die wedstryd na hul kant geswaai het.
Dit was ‘n veel beter vertoning as wat die Leeus teen die WP gelewer het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.