Sharks kies groot kanonne vir Bulls-stryd

Makazole Mapimpi op pad om ‘n drie vir die Bokke teen Wallis te druk.  (Foto: Twitter/Springboks)

Die Sharks het hul grofgeskut vir môreaand se plaaslike derby teen die Bulls in Durban gekies.

Lukhany Am sal die span vanuit sy posisie op binnesenter aanvoer, terwyl Siya Kolisi ook in die opdrafspan is. Dan sal Makazole Mapimpi en S’bu Nkosi beslis die Pretorianers se verdediging toets.

Die Springbok-haker, Bongi Mbonambi, sal ook sy Sharks-buiging in die wedstryd maak.

“Dit is wonderlik om die Springbokke weer terug vir die wedstryd te hê – hulle is vol energie en entoesiasme om weer vir hul plaaslike span te speel. Hul professionaliteit en toewyding is terselfdertyd ’n voorbeeld vir die jonger spelers in die groep,” het Sean Everitt, afrigter, gesê.

Intussen het Jake White, afrigter van die Bulls, gesê dat sy span daarna uitsien om kragte teen ’n sterbelaaide Sharks-vyftiental te meet.

“Die Sharks speel op hul tuisveld en beskik oor ’n rits internasionale spelers op wie se knoppie gedruk kan word. Ons is baie opgewonde om teen ’n amperse internasionale span te speel. Die atmosfeer is amper elektries – dit is soos ’n toetswedstryd vir ons,” het White gesê.

Die wedstryd begin Vrydag om 19:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Sharks: Anthony Volmink (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Jeremy Ward (buitesenter), Lukhany Am (kaptein en binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Boeta Chamberlain (losskakel), Ruan Pienaar (skrumskakel), Phepsi Buthelezi (agtsteman), Jeandré Labuschagne (flank), Siya Kolisi (flank), Hyron Andrews (slot), Ruben van Heerden (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Khwezi Mona, Lourens Adriaanse, Reniel Hugo, Hencu Venter, Sanele Nohamba, Tito Bonilla en Werner Kok.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Ummmmm waar is Curwin Bosch? Miskien kan die WP hom Wes-Kaap toe bring want lyk my hy gaan nie meer veel speeltyd kry by die Sharks nie.

Chris dupreez

Die Sharks het n bul span.