Sharks kies Ndungane in Nkosi se plek

Dit kon die Sharks se afrigter, Robert du Preez, sekerlik nie langer nie as vyf minute geneem het om die span te beklink vir Saterdag se Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie op Kingspark in Durban nie.

Daar is net een verandering in die opdrafspan wat die Blou Bulle met 37-27 in die halfeindstryd geklop het.

Die linkervleuel, Sbu Nkosi, wat sy elmboog teen die Bulle ontwrig het, word deur die veteraan en oud-Springbokvleuel Odwa Ndungane vervang.

Dit nogal ironies dat die Sharks twee weke gelede Ndungane “gegroet” het toe hulle teen die Westelike Provinsie gespeel het. Alles het daarop gedui dat Nkosi in die eindstryd sou speel, maar toe slaan die noodlot toe.

Nou word die 36-jarige veteraan, wat 36 keer vir Grens se Bulldogs tussen 2000/’03 gespeel het, 10 keer vir die Bulls se Superrugbyspan, 134 Superrugbywedstryde vir die Sharks en 101 Curriebekerwedstryde vir die Durbaniete, ʼn tweede keer kans gegee om koebaai te sê.

Verswak Ndunge enigsins die span? Nege toetse en meer as 300 eersterangse wedstryde vertel mos die verhaal: Ervaring kan nie gekoop word nie.

“Dis waarvoor ons regdeur die reeks gemik het en ʼn tuiseindstryd beteken alles vir ons. Dis ons laaste 80 minute van die seisoen en niks behalwe ons beste sal genoeg wees vir die eindstryd nie,” het Du Preez by die spanaankondiging gesê.

Du Preez weet waarvan hy praat. Hy weet hoe belangrik tuisveldvoordeel is, want hy was as skrumskakel vir Noord-Transvaal in die laat tagtigerjare en ook in die vroeë negentigs deur die meule.

En o ja, Du Preez het die vlugvoetige Rhyno Smith ook op die bank ingesluit.

Sharks –

15 Garth April, 14 Jacobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 Marius Louw, 11 Odwa Ndungane, 10 Curwin Bosch, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Keegan Daniel, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Ross Geldenhuys, 2 Franco Marais, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Armand van der Merwe, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Jean Droste, 20 Jacques Vermeulen, 21 Michael Claassens, 22 Tristan Blewett, 23 Rhyno Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.