Sharks klop Pumas met vaart en ondersteuning

the sharksNá Vrydag se eerste twee Curriebekerwedstryde wil dit ál lyk of Suid-Afrikaanse spanne besluit het om meer te hardloop. Die Sharks het dit met rukke uitstekend in Nelspruit gedoen en die Pumas 33-10 geklop.

Soos die telling en die vyf drieë teen een aandui was dit redelike eenrigting verkeer. Dit vertel egter nie hoe die Pumas, veral in die eerste halfuur, self gespook het om beheer te kry nie. Na 28 minute het hulle gaan druk en was hulle net 10-14 agter, wat ook die rustydtelling was.

Toe het hulle nog ʼn verdere tien minute gehou voordat die Sharks weer kon punte aanteken.

Die sporadiese aanvalle en aanvanklike stewige verdediging van die Pumas was uiteindelik egter net eenvoudig nie teen die afgerondheid en vaart van die wenspan bestand nie.

Die Sharks se skrum was deurentyd in beheer, en hulle het ook hul rolmale goed gedoen. Maar die eintlike verrassing was die ondersteuning en die (meestal) goeie besluitneming.

Alles is ook op volle vaart gedoen en ondanks foute wat seker verstaanbaar is tussen die nuwe kombinasies soos byvoorbeeld die skakel- en senterpaar, gaan die Durbanse span duidelik ʼn faktor in die reeks wees.

Die Pumas sal verseker nie onderaan die Curriebeker-punteleer eindig nie, en mag selfs op een van die grotes se af-dag ʼn topspan laat tuimel, maar hulle sal ook ʼn groot telling of twee teen hulle kry.

Jy kan nie met blote vasberadenheid op die verdediging die aanvallers hokslaan nie. Struktuur en kommunikasie was hoe later hoe meer opvallend by die verdediging afwesig.

Dan sal ʼn mens ook moet sien hoeveel spelersdiepte die Pumas het  soos die seisoen vorder.

Puntemakers –

Pumas (10) 10: Drie: Frankie Herne. Doelskop: Francois Brummer.
Sharks (14) 33: Drieë: Franco Marais, Odwa Ndungane, Sibusiso Sithole, Ruan Botha, Andre Esterhuizen. Doelskoppe: Curwin Bosch 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.