Sharks klop Racing; Bulls, Stormers deel louere

Die Sharks spog met die Natixis-beker. (Foto: HKRU)

Die Sharks het Saterdag met die Franse klub Racing 92 in Hongkong afgereken; en die Bulls en die Stormers het op Wellington gelykop gespeel in hul Superrugby-littelosmaker.

Die Durbanse franchise het die kragmeting om die Natixis-beker op die Aberdeen-sportterrein oorheers en oortuigend met 31-14 gewen, nadat die Franse eers laat in die opwindende wedstryd twee doele kon aanteken.

Die Franse bankgroep Natixis, wat sowel Racing as die rugbyafdeling van die Hongkongse Voetbalklub borg, borg ook die tweejaarlikse rugbydag.

Luidens berigte het die Sharks baie goed vertoon teen ʼn span wat al halfpad met sy eie seisoen gevorder het, maar dit moet nie uit die oog verloor word nie dat Racing sonder sulke sleutelspelers as die All Black-legende Dan Carter, die Springbok Pat Lambie, en sy kaptein, die Franse toetsspeler Dimitri Szarzewski, was.

Die Durbaniete, wat deurentyd die pas aangegee het, het vyf drieë teen twee gedruk, en het teen rustyd met 12-0 voorgeloop.

Bulls puik

♦ Op die Bolandstadion het die Bulls die gelykmakende doel drie minute voor die eindfluitjie behaal, ná ʼn rustydvoorsprong van 14-7.

Die eindtelling was 26-26, met albei spanne wat vier drieë gedruk en drie daarvan verdoel het.

Na berig word, was dit veral die Bulls wat puik rugby gespeel het in ʼn wedstryd wat glo met veel meer erns deur die spelers bejeën is as wat die geval gewoonlik met littelosmakers is.

Die fisieke Pretorianers het nie net met hul slaankrag beïndruk nie, hul verdediging was eweneens van die boonste rak.

Die puntemakers –

Sharks 31 (12) – Drieë: Makazole Mapimpi, Marius Louw (2), Cameron Wright, Curwin Bosch. Doelskoppe: Robert du Preez (2), Curwin Bosch.

Racing 92 14 (0) – Drieë: So’otala Fa’as’o, Xavier Chauveau. Doelskoppe: Antoine Gibert (2).

Stormers 26 (7) – Drieë: EW Viljoen, Cobus Wiese, Craig Barry, Johan du Toit. Doelskoppe: Damian Willemse (2), George Whitehead.

Bulls 26 (14) – Drieë: Roelof Smit, André Warner, Adriaan Strauss, Embrose Papier. Doelskoppe: Marnitz Boshoff (2), Manie Libbok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.