Sharks kom hárd terug aarde toe

Die Sharks het ver teen die Jaguares verloor. Foto: Facebook

As die Sharks vooraf in die geheim drome gekoester het van ’n soortgelyke vertoning vandag teen die Jaguares in Durban as wat hulle verlede week teen die Lions gelewer het, dan is hul lugkastele sommer met ’n stootskraper afgebreek.

Vyftien Argentynse stootskrapers om presies te wees.

Want so goed soos wat die Sharks teen die Lions was, so goed was Jaguares vandag teen die Durbaniete.

Die Argentynse besoekers het amok in Durban gemaak en sewe drieë gedruk om die tuisspan met 51–17 te oorrompel.

Veral hul buitesenter, Matias Moroni, was ’n doring in die Sharks se vlees en hy het drie drieë gedruk; meer as die hele Sharks-span se gesamentlike poging.

Wisselvalligheid was tot dusver die Suid-Afrikaanse spanne se doodsteek in die kompetisie. Dit help veel jy is een week kaatjie van die baan, net om die volgende Saterdag ’n eenooggoudvissie in ’n té klein bak te wees.

En om eerlik te wees: Die Sharks was vandag pateties op hul tuisveld.

Hulle bly egter eerste op die SA punteleer, met die Jaguares wat nou tweede is.

  • Puntemakers:

Jaguares: Drieë: Matias Orlando (3), Pablo Matera (2), Tomas Cubelli, Matias Moroni. Doelskoppe: Domingo Miotti (5). Strafskoppe: Miotti (2).

Sharks: Drieë: Hyron Andrews, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Robert du Preez, Curwin Bosch. Strafskop: Du Preez.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie ·

Kan nie verstaan hoe die rugby spanne se spel elke week verskil nie .

Frans C ·

Verloor teen ‘n span wat die Leeus 2x geklop het,een keer oorsee en by die huis.
Laat my dink dat die Leeus vrot was en die Sharks se vertoning teen Leeus te hoog aangeslaan is.

Gerhard ·

Jaguares speel soos die Franse van ouds. Hulle kan enige span vermorsel, op enige dag. Die gaan oor passie, slim spel en hope natuuelike talent. Plesier om te aanskou.

Ne. ·

Sure Gerhard sure whatever you say… sekerlik sal die Jaguares so enige New Zealand se spanne veral die All blacks wat rugby kan speel en met geen inmenging in hul sport sit so hard ore aan gesit sal word soos die Sarks hier… soos jy reken.sure …Glo jy regtig die snert wat jy praat? RSA spanne raak al hoe meer pateties! Weet jy hoekom ?Of kies jy blind nes die politiese korrekte res om dit maar so te aanvaar? Om aan vals hoop vas te hou gaan jou hart breek my ou…Die Suid Afrikaanse spelers is nie in dieselfde liga as New Zealand se spelers soos hul eens was nie… daai dae is m… toe…

Niklaas ·

Ek glo nie ek het al die Sharks so vrot sien speel nie. Swak verdediging , hopelose hanteerwerk , ‘n losskakel met een groot afdag. Neewat…

Frans C ·

Die grootste probleem wat ek met al SA spanne het,is dat almal volgens ‘n ingedrilde
patroon speel wat op die teenstanders toe gepas moet word. Werk dit die dag lyk ‘n span werklik goed en word spelers opgehemel en teenstanders afgeskryf.

Dit is duidelik dat video ontleding so belangrike rol speel, en dat indien spanne nie met iets nuut voor die dag kom ,teenstanders soos die Jaquars gou spelers soos Bosch aan bande lê en een van die Sharks se skerpste tande uitgetrek het.

Die enigste stukkie briljantheid het ook van hom gekom toe hy ‘n speler met ‘n 50-50 aangee deur ‘n gaping gestuur het.Verby is die dae van briljante agterspelers soos bv
Mannetjies Roux wat oor die vermoë beskik het dinge te doen wat vandag se afrigters grys hare sou besorg het omdat dit nie deel van hul wedstryplan sou gewees het nie.

‘n Span kan nie een week 42-5 wen in weg wedstryd en dan 51-17 op hul tuisveld verloor nie.Dit het mi niks met wisselvalligheid te doen nie maar wel met spelers se onvermoë om aan te pas met dit wat op die veld gebeur nie.

Thys ·

Sardientjies …….Die…… letwel,DIE CRUSADERS wag vir julle.!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.