Sharks kook, maar Pumas gaan nie lê

Foto: @VodacomRugga/Twitter

ʼn Mens wonder hoe die aspoesters van Suid-Afrikaanse rugby, soos die Pumas en Griekwas, sou gevaar het as hulle dieselfde spelersgetalle en begrotings as van die groot bonde gehad het.

Nadat die Lions Vrydagaand op Ellispark die vloer gevryf het met Griekwas, het die Sharks Saterdag in die Mbombela-stadion die Pumas met 42 – 19 geklop nadat hulle rustyd reeds met 28 – 7 voor was.

Vir die Sharks was die oorwinning soos manna uit die hemel nadat hulle verlede Saterdag deur die Bulls op Loftus ore aangesit is.

Hulle het die eerste keer vanjaar soos ʼn span gelyk wat die plaaslike reekse kan wen, want die spelers het die bewegings op volle vaart uitgevoer, die voorspelers het hulle deel gedoen, Curwin Bosch se skopskoen het die Pumas moedeloos gehad en ses drieë het ʼn bonuspunt beteken.

Toe rustyd aangebreek het, was die Pumas met die rug teen die muur, want dit het nie gelyk of hulle by die tempo kon byhou nie.

Maar die Pumas, soos soveel keer in die verlede, het die stang vasgebyt en in ʼn stadium al hoe nader aan die Sharks gekruip.

Waar die afrigters, Jimmy Stonehouse en MJ Mentz, die ruwe diamant ontdek en dan slyp, weet net hulle. Maar dit beteken baie vir Suid-Afrikaanse rugby, want die diepte word aangevul en uitgebrei.

Ongelukkig het die Pumas geen kans om hul spelers wat hulle ontwikkel, te behou nie, want net soos SA rugby nie met Europa kan saamgesels nie, kan die kleiner bonde plaaslik ook nie hul spelers behou nie.

Maar onthou gerus maar die name van Neil Maritz, Erich Cronjé, Eddie Fouche (al is hy beseer) en ʼn yster soos Jeandré Rudolph.

Binne ʼn seisoen of twee gaan hulle deur die groter bonde gegaps word en dan sal Stonehouse-hulle weer van voor af moet bou.

* Punte: Sharks 42 (28): Drieë: Manie Libbok, Madosh Tambwe, Dan Jooste, Sbu Nkosi, Kerron van Vuuren (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (6).

Pumas 19 (5): Drieë: Francois Kleinhans, Erich Cronjé (2). Doelskoppe: Fiela Boshoff (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cecilia ·

Eks n trotse Puma ondersteuner! Jimmy en manne werk kliphard en d manne het d harte v leeus. Dis net jammer geld lok hulle na groener weivelde.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee, die kleiner bonde is die slypsteen vir die groter bonde. Dieselfde in die ander lande se ligas, krieket, sokker en rugby. Groot spelers was eers geslyp in kleiner ligas en dan opgeraap vir die groot spanne. Ronaldo is ‘n tipiese voorbeeld in die Engelse Premier Sokker Liga. Lees gerus in Wikipedia oor sy glansryke geskiedenis.

Frans ·

Dit is tipies van beroepspansport. Geld is die groot lokaas want ‘n rugbyspeler se loopbaan is beperk en kan beserings dit vroegtydig kortknip.In die amateurdae het jy geweet wie speel vir wie maar noudat dit ‘n werk geword het is vandag se held more jou grootste kopseer.
As daar nie ‘n eweredige spelerverdeling en finansiêle ondersteuning is,sal Suid Afrikaanse spanne in ‘n Superrugby Suidelike halfrond kompetisie altyd sukkel om kompetrende spanne saam te stel teen lande
met ‘n sterker geldeenheid en meer stabiele regerings.
Soos die Springbokke so elke twaaljaar die beker wen verskyn daar van tyd tot tyd ‘n span op die Suid Afrikaanse toneel,soos bv die Leeus om dan hul ondersteuners teleurgesteld huistoe te stuur.
Voeg daarby die regering se beheptheid met transformasie wat spankeuses bemoeilik dan is dit net
‘n span met ‘n borg met diep sakke wat jou instaat stel om ‘n koop ‘n span beleid te volg,tot groot vreugde van sy ondersteuners en verdriet van ander.Jammer Pumas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.