Sharks laat jou aan die Crusaders dink

Kontinuïteit is een van die belangrikste boustene van enige rugbyspan se welslae en dis hoekom die Sharks kop en skouers in vanjaar se Curriebekerreeks uittroon.

Mooiweer en warm of koue weer, weerlig of reën… Noem maar op, die Sharks is die enigste span wat bestendig is en by enige toestand kan aanpas. Soos die Crusaders, vanjaar weer die Superrugbykampioen.

Hul hardekwas-afrigter, Robert du Preez, het dit destyds in sy speeldae by Noord-Transvaal geleer: Jy  help nie jou teenstander op as hy platgeslaan is nie, jy plant die uitklophou.

Nadat die Sharks Vrydagaand op Kingspark die Goue Lees in gietende reën met 24-10 geklop en Griekwas die Vrystaatse Cheetahs met 59-24 in Kimberley geskok het, is die vraag wie die Sharks kan stuit.

Altesaam 17 ligapunte voor hul naaste teenstander, die meeste drieë (47) in die reeks gedruk, die meeste punte (332) aangeteken en die minste (198) afgestaan… Dit was voor Sondagmiddag se wedstryd tussen die Blou Bulle en Westelike Provinsie op Loftus Versfeld.

Blink diamante in Garth April, S’bu Nkosi, Curwin Bosch, Rhyno Smith, Jacques Vermeulen en Thomas du Toit; ou ervare hande soos Odwa Ndungane, Michael Claassens, Ross Geldenhuys en Keegan Daniel; en voeg hierby Franco Marais, Akker van der Merwe, Ruan Botha en jy het die wenresep.

Kan enige Curriebekerspan die Sharks op Kingspark klop?

Dalk die WP, maar  ek weet nie so mooi of die Vrystaat, Goue Leeus of die Pumas (wat ook vir die halfeind kwalifiseer) daartoe in staat is nie.

Die opgesomde puntelys (wedstryde gespeel en ligapunte tussen hakies): Sharks (11, 47), Vrystaat-Cheetahs (10, 30), WP (9, 27), Goue Leeus (10, 25), Pumas (10, 24), Griekwas (11, 21) en Blou Bulle (9, 20).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

In die land van die blindes is eenoog koning.Net so is die Sharks koning in ‘n afgewaterde Curriebeker kompetisie.

C ·

Stem erg afgewater. Geldgierigheid van rugby admninsistrateurs. Meer ondersteunerspersoneel as spelers en plattelandse en klubrugby bloei dood.Kyk Cheetas. Hero tot zero in halwe seisoen. Hoekom in Europese liga inneuk? Gaan net oor eie gewin en rondrits en nie integriteid en om rugby te ontwikkel nie. Wie onthou nog gewese klubkampioenskappe in Durban. Daardie spanne in die finaal sou enige Europese klubspanne vermink het. En dit was op klubvlak!!!

Nico K ·

Ek weet nie hoekom julle nou so te kere gaan oor die Curriebeker wat afgewater is nie. Dit is al ‘n paar jaar wat die Curriebeker sonder die Springbokke gespeel word. Niks nuuts nie. En die Cheethas het geen keuse gehad om oorsee te gaan speel nie. Toe hulle uit die Superreeks is moes hulle iets doen anders sou hulle al hul borge verloor het. En hulle is nog steeds tweede in die reeks. So wat is die probleem of hou julle maar net daarvan om te kla.

Frans C ·

Wanneer jou beste spelers of in die Springbokspan is en die wat nie is oorsee speel,dan raak jou plaaslike reeks afgewater.Die bewyse is mos duidelik vir almal om te sien in die Super Rugbyreeks,waar twee spanne uitgeskop is omdat hul nie goed genoeg is nie.

Hulle kan nooit goed genoeg wees nie as hul spelers,dws Kings en Cheetahs of oorsee speel of by ander groot plaaslike bonde aansluit.Daar is net een maatstaf en dit is internasionale rugby waar ons nie die mas opkom nie want ons plaaslike rugbyreekse is swak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.