Sharks leer les in Glasgow

Die Warriors het die Sharks uiteindelik met 35 – 24 gewen. (Foto: Glasgow Warriors/Twitter)

Dit was nie net die spelpeil van die Sharks wat Saterdag op Scotstoun in Glasgow in die eerste helfte van hul kragmeting met die Glasgow Warriors veel te wense oorgelaat het nie, maar hul taktiek in dié wedstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap het ook soms die koppe laat draai.

Die Warriors het uiteindelik met 35 – 24 gewen nadat hulle soos ʼn sneltrein weggespring het en rustyd reeds met 28 – 10 voorgeloop het.

Die Sharks het ’n hele paar keer besit onnodig weggeskop en dit het nie gelyk of daar ʼn wedstrydplan was nie. Dan het Curwin Bosch, met die KwaZulu-Natallers wat momentum gehad en voor oorheers het, besluit om met die telling op 35 – 10 pale toe te skop.

Die skop was boonop mis en die kans om dalk sewe punte aan te teken, was daarmee heen.

Nietemin het die Sharks al hoe beter begin speel namate die wedstryd gevorder het. As die wedstryd nie heeltemal uitgerafel het oor verskeie verwysings op die groot TV-skerm in die een hoek van die veld asook ʼn rits beserings nie, kon die Sharks minstens ʼn bonuspunt verower het.

Maar hulle sal kan moed skep met hul vertoning, want dit was beter as verlede week teen Munster en hul selfvertroue sou beslis ʼn hupstoot gekry het.

Vir die Sharks was die Springbokstut Thomas du Toit een van die groot uitblinkers. Hy het ʼn drie gedruk en was by ʼn paar geleenthede byna onstuitbaar wanneer hy op loop gegaan het.

Punte: Glasgow Warriors 35 (28): Drieë: Ross Thomson, Ryan Wilson, Jamie Bhatti, Cole Forbes (2). Doelskoppe: Forbes (5). Strafdoel: Forbes.

Sharks 17 (10): Drieë: Leroux Roets, Thomas du Toit, Ntuthuko Mchunu. Doelskoppe: Curwin Bosch (2), Ruan Pienaar. Strafdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Hierdie is die nagevolge van politieke inmenging in sport die kwota sisteem is dieselfde as die apartheid sisteem en moet onmiddellik gestaak word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.