Sharks moes inhaal; SWD skok kampioen

Die Sharks moes ʼn rustydagterstand uit die weg ruim, om die Pumas Vrydag in hul Curriebeker-kragmeting in Durban te klop.

Die besoekers was rustyd met 12-7 voor, maar die tuisspan, wat vier drieë teen twee gedruk het, het op die ou end met 28-12 gewen.

Dit was ʼn lewendige wedstryd, maar van ʼn skouspel was daar nie sprake nie. Daarvoor was die hanteerwerk gans en al te swak – deels te wyte aan die stuifreentjie, wat veral in die eerste helfte geval het. Dit het konstruktiewe rugby bemoeilik.

Daar was in die 20 hanteerfoute. Talle strafskoppe is by die afbreekpunte afgestaan. Op die koop toe het swak lynstaaningooie van Chiliboy Ralepelle en Akker van der Merwe die Sharks ses lynstane op hul eie ingooi gekos. Die Pumas het ook in die lynstane gesukkel.

Die Sharks het kort voor rustyd twee vinnige drieë afgestaan deur slim skoppies van Stefan Ungerer van die Pumas teen sy ou span. Hulle het duidelik die oop veld agter die Sharks se agterlyn as teiken gestel.

Die Westelike Provinsie, Goue Leeus en die Sharks is dus al drie nog onoorwonne ná twee wedstryde elk, met die Leeus wat Saterdag op Ellispark teen die Vrystaat ʼn kans kry om dit drie seges op die ry af te maak.

♦ Die Suidwestelike Distrikte het die Griffons se kans om die Eerste Liga-titel te behou ʼn ernstige knou toegedien deur die Perstruie in George met 32-7 te verslaan (rustyd 13-7) .

Minstens tot ná Saterdag se wedstryd tussen die Luiperds en die Oostelike Provinsie loop die Arende nou voor in die tweedevlakreeks.

Die puntemakers –

Sharks 28 (7) – Drieë: Jeremy Ward, Johan Deysel, Aphelele Fassi, Curwin Bosch. Doelskoppe: Robert du Preez (4).

Pumas 12 (12) – Drieë: Ruwellyn Isbell, Le Roux Roets. Doelskop: Chris Smith.

SWD 32 (13) – Drieë: Wayne Wilschut, Vuyo Mbotho, Marlo Weich (2). Doelskoppe: Divan Nel (3). Stradoele: Divan Nel (2).

Griffons 7 (7) – Drie: Tertius Maarman. Doelskop: Heinrich Bitzi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Bulle julle moet wen hulle kan en speel 80 muniete aseblief aseblief

Henk ·

Nou wat is besig om by die Pumas verkeerd te gaan? Of het dit reeds verkeerd gegaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.