Sharks-o.21-speler skitter vir Namibië in toets

Frederico Favaro – in die kol met 17 punte. (Foto: Twitter)

ʼn Losskakel wat twee maande gelede nog vir die Sharks se o.21-span gespeel het, het Saterdag in Windhoek vir Namibië teen Uruguay geskitter.

Ondanks sy span se nederlaag van 36-52 is die 20-jarige Cliven Loubser as die speler van die wedstryd bekroon. Hy het veral met taktiese skopwerk en vlymskerp breekslae beïndruk.

Loubser het ʼn groot rol gespeel toe Namibië se o.20-span vroeër vanjaar die Afrika-o.20-toernooi gewen het.

Hy is ’n gebore en getoë Namibiër, wat aan die Sharks se rugbyakademie studeer.

Die rustydtelling was 31-7 in Uruguay se guns.

Die besoekende Kiewiete, wat minder foute begaan en voorlangs oorheers het, het die tuisspan in ʼn fees van drieë geklop.

Tien minute voor die einde was die tuisskare nog vol hoop toe die telling 38-36 in Uruguay se guns was, maar ná nog twee drieë teen hul span was die koeël deur die kerk.

Cliven Loubser – die speler van die wedstryd. (Foto: Facebook)

Die wenspan het sewe en die Biltongboere vyf drieë gedruk – sommige nogal skouspelagtig – in die heel eerste kragmeting tussen dié twee lande op die rugbyveld.

Uruguay se regtervleuel, Frederico Favaro, was in die kol met al sewe doelskoppe, en het ook met ʼn strafdoel geslaag om op eie houtjie 17 punte by te dra.

Alejandro Nieto (agsteman), Mateo Sanguinetti (stut) en Rodrigo Silva (losskakel) het elk twee drieë vir die wenspan gedruk, en Carlos Arboleya (plaasvervanger-stut) een.

Darryl de la Harpe (senter), Rohan Kitshoff (flank), JC Greyling (senter), AJ de Klerk (haker) en Johan Tromp (vleuel) het vir Namibië se drieë gesorg. Loubser het met drie doelskoppe en ʼn strafdoel geslaag en Theuns Kotzé met ʼn doelskop.

Die tweede en laaste toets in die reeks word eerskomende Saterdag in Windhoek afgehandel.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Desiré Coetzee ·

Hi, ons rugby span word geken as die Welwitschias. Ons was baie jare laas die biltongboere

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.