Sharks op ʼn drafstap nou bo aan die punteleer

ʼn Mens kan nie veel lees in die telling tussen die Sharks en letterlik die derde span van die Vrystaat Cheetahs nie, behalwe dat die Durbaniete voorspelbaar opgeskuif het na die eerste plek op die Curriebeker-punteleer.

Die Sharks het die baie jong Vrystaters met 45-15 afgeslag en in die proses sewe drieë teen die besoekers se twee in die laaste kwartier gedruk.

Die eerste tien minute nog het ʼn mens gedink: hier’s ʼn ding aan die kom. Maar daar was te min ondervinding van groot rugby, te veel gapings wat gelaat is ondanks ʼn gewilligheid om te keer, en te dikwels swak oordeel wanneer daar ʼn skaars geleentheid of twee was.

Dit was eintlik nie veel meer as ʼn oefenlopie vir die Sharks nie. Hulle het soms goeie rugby gespeel, die bal deurgaans die werk laat doen en goed ondersteun. Daar is egter ʼn bal of twee – en daarmee ʼn geleentheid of twee –wat verlore gegaan het, en hulle was nie deurgaans op volle silinders soos teen ʼn beter span nodig sou wees nie.

Volpunte ook aan die jong Vrystaatse span, sonder 28 spelers wat oorsee in die Pro14 speel, plus ’n aantal beseerdes. Hulle was nie opgewasse nie, maar het deurgaans alles gegee. Dit kan vorentoe net beter gaan.

Puntemakers –
Sharks (24) 45: 
Drieë: Lukhanyo Am, John-Hubert Meyer, Inny Radebe, Louis Schreuder, Marius Louw, S’bu Nkosi 2. Doelskoppe: Radebe 3, April 2.

Vrystaat Cheetahs (3) 15: Drieë: Marco Mason, Luther Obi. Doelskop: Mason. Strafdoel: Ryno Eksteen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

SA rugby en sy voorste kompetisie die Curriebeker raak nou ‘n klug inteenstelling met die NZ kompetisie die Mitre 10 Cup wat steeds alhoemeer spelers blootstel aan ‘n strawwe kompetisie in spanne van min of meer gelyke sterkte.

Kan ‘n mens werklik opgewonde raak oor ‘n kompetisie wat nou so afgewater is is dat
pawiljoene al hoe leër raak? Sies SARU gaan dit dan net oor geld?

Hennie ·

Stem saam met Frans C se kommentaar. Dit onderstreep my punt wat ek by verskeie geleenthede hier gemaak het. SARU het hierdie eens gesogte kompetisie se nek behoorlik omgedraai. Iets wat die skrywer nie hier noem nie, in die eerste rondte van hierdie jaar se CC moes die Sharks ook met hulle 3e span in Bloem teen die Cheethas speel. Dit was dieselfde dag wat die Sharks in die kwarteindrondte van die Super reeks moes speel. Die dag het die Cheethas, wat op vol sterkte was, die Sharks met 35 punte afgeslag. Wie dink nog steeds die CC is nie ‘n fiasko, ‘n totale klug en beteken absoluut niks?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.