Sharks opgewonde oor Siya se kapteinskaprol

Siya Kolisi. Foto: Anne-Christine Poujoulat.

Die Springbok-kaptein Siya Kolisi sal die Sharks vanaand in Lukhanyo Am se afwesigheid in Durban aanvoer.

Am, wat onlangs sy kontrak met die Durbaniete tot 2025 verleng het, speel vir die volgende twee maande vir die Kobe Steelers in Japan.

Die Sharks sal ongetwyfeld hul gereelde kaptein se teenwoordigheid op die veld en sy talent as bobaassenter mis, maar volgens S’bu Nkosi sien die span ook daarna uit om onder Kolisi se leierskap te speel.

“Dit is ’n lekker hupstoot om vir Siya as kaptein te hê. Tog sal dinge nie baie verander nie; hy is al immers sedert hy by die Sharks aangesluit het deel van die span se leiersgroep,” het die Springbok-vleuel gesê.

Kolisi is in Januarie as SA Rugby se speler van die jaar aangewys, terwyl hy ook saam met Am, Makazole Mapimpi, Eben Etzebeth en Malcolm Marx in Wêreldrugby se droomspan vir 2021 opgeneem is.

“Hy het eintlik nog die heeltyd ’n baie positiewe invloed op die span; die enigste verandering is dat hy nou ook die gesag het wat met die titel gepaard gaan,” het Nkosi bygevoeg.

Die nasionale rugbykaptein is aan die stuur van ’n gevaarlike Sharks-vyftiental wat spelers soos Aphelele Fassi, Makazole Mapimpi, Marius Louw en Thomas du Toit insluit.

Die wedstryd begin vanaand om 19:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Jeremy Ward (buitesenter), Marius Louw (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Henco Venter (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Reniel Hugo (slot), Gerbrandt Grobler (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (haker), Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu, Le Roux Roets, Phepsi Buthelezi, Grant Williams, Tito Bonilla en Werner Kok.

Scarlets: Tom Rogers (heelagter), Steff Evans (regtervleuel), Johnny Williams (buitesenter), Scott Williams (binnesenter), Corey Baldwin (linkervleuel), Sam Costelow (losskakel), Dane Blacker (skrumskakel), Sione Kalamafoni (agtsteman), Dan Davis (flank), Blade Thomson (flank), Jac Price (slot), Sam Lousi (slot), Samson Lee (stut), Daf Hughes (haker) en Steff Thomas (stut). Plaasvervangers: Shaun Evans, Kemsley Mathias, Harri O’Connor, Aaron Shingler, Carwyn Tuipulotu, Archie Hughes, Dan Jones en Joe Roberts.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.