Sharks plant so amper die uitklophou

Die Sharks en die Crusaders het gelykop in Nieu-Seeland gespeel. Foto: Facebook.

“Ons is mal daaroor om te toer,” het die Louis Schreuder, die kaptein van die Sharks ná die afloop van vanoggend se wedstryd teen die Crusaders in Christchurch gesê.

En die Durbaniete se afgelope twee wedstryde in Australië en Nieu-Seeland gooi beslis die nodige olie op Schreuder se vurige woorde.

Die Sharks het verlede week die Waratahs geklop en vanoggend gelykop (21 elk) teen die septerswaaiende Crusaders gespeel.

As jy ’n paar weke – veral na daai Jaguares-nederlaag – vir ’n Sharks-ondersteuner gesê het dat hulle gelykop teen die voorste span in vanjaar se reeks (boonop op die einste voorlopers se tuisveld) sou speel, sou hulle waarskynlik jou woorde met ’n knippie sout geneem het.

Tog was die Sharks vanoggend in ’n veglustige bui en het hulle geensins vir die Nieu-Seelanders teruggestaan nie.

Toegegee, die Crusaders was sonder sterspelers soos Ryan Crotty en Richie Mo’unga, maar hulle is steeds so te sê onstuitbaar op hul tuisveld en het ’n rits wedstryde in Christchurch al gewen.

Curwin Bosch het sy skopskoene aangehad en het al 21 van die Sharks se punte aangeteken. Maar waar die 21-jarige losskakel die telbord aan die rol vir die besoekers gehou het, was dit hul skitterende verdediging wat die ’Saders deurentyd op die agtervoet geplaas het.

Maar met ’n agterstand van 7-9 ná die eerste helfte het daar waarskynlik nie te veel alarms in die Crusader-kamp afgegaan nie. Nieu-Seelanders is immers bekend daarvoor dat hulle die spoednaald in die tweede helfte in die rooi druk.

Curwin Bosch was suksesvol met sewe strafskoppe. Hy het egter met ’n belangrike stelskop in die tweede helfte misgekorrel. Foto: Facebook.

Tog was dit die Sharks wat in die 75ste minuut punte aangeteken het, toe Bosch sy sewende strafskop deur die pale gejaag het.

Die Crusaders het daarna aanval ná aanval van stapel gestuur en die druk was uiteindelik net te veel toe Micth Hunt in die 81ste minuut deurgebars het.

Die Kiwi-losskakel het koelkop gebly en sy eie drie verdoel om die telling 21 elk te maak.

Dit was nie die mooiste wedstryd nóg nie – die Sharks was basies nooit op die aanval nie – maar hulle het soos tiere verdedig en munt uit die Crusaders se foute geslaan.

Hulle is tans die voorste span in die SA afdeling van die reeks, met 28 punte in hul 11 wedstryde.

Puntemakers:

Sharks: Strafskoppe: Curwin Bosch (7)

Crusaders: Drieë: Cody Taylor, Jack Goodhue, Mitch Hunt. Doelskoppe: Hunt (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Was vir my ‘n wedstryd van swak dissipline van die Crusaders 7 uit nege strafskoppe deur die pale en onvermoë van Sharks om drieë te druk. Drie verdoelde drieë teen 7 strafdoele vertel die verhaal.

Dit wys maar net weer dat selfs die Crusaders sonder hul All Blacks ,Ryan Crotty, Sam Whitelock, Richie Mo’unga en David Havili,kwesbaar is teen ‘n span soos die Sharks.

Nico K ·

Uitstekende wedstryd van die Haaie. Ja hule aanval is vir my nog steeds eensydig, maar om so amper die Crusaders op hul tuisveld te wen verdien ‘n kompliment. Ons SA spanne is nie so sleg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.