Sharks sal die baie foute vorentoe moet uitskakel

Pat Lambie

Pat Lambie – ses uit sewe oorgeskop, maar nie die een wat tel nie.

Foute en nogmaals foute was Vrydag die storie van die Sharks se Superwedstryd teen die Reds in Brisbane.

Met opflikkerings hier wat sukses vorentoe in die reeks beloof het, het die Sharks se verdediging toe dit saak maak, hulle in die steek gelaat – en die hantering was deurgaans maar baie gemiddeld.

Die gevolg is dat die Durbaniete 26-28 verloor het teen ʼn span wat beter hanteer het, meer besit gehad het en getoon het dat hulle vanjaar lekker – maar nie noodwendig wenrugby nie – gaan speel.

Ironies genoeg kon Pat Lambie sowat drie minute voor die einde die sege beklink het, maar was sy enigste poging uit sewe wat nie die kol getref het nie, regs verby.

Die Reds het vier drieë teen twee gedruk – en as daar verdere twyfel is oor wie die beste span was, kan daar na die 12 verbroude skoppunte van die tuisspan gewys word.

Daar was goeie ondersteuning vir die baldraer aan Sharkskant, en daar is wel geleenthede geskep. Telkens, egter, het aangeë verlore gegaan wat op iets kon uitgeloop het.

Ter versagting is daar seker die humiditeit wat die bal effens glad gemaak het, maar die tuisspan het dit reggekry om beter te hanteer in omstandighede wat vir die Sharks in Durban ook in die aande pla en waaraan hulle gewoond behoort te wees..

Die Sharks se lynstaanwerk was goed, hulle skrumwerk redelik goed en by die afbreekpunte was daar te dikwels ook verlore besit weens balbeheer wat nie na wense was nie.

Die tuisspan het egter gereeld wanneer hulle aan die hardloop gaan, gelyk of iets kan gebeur, en die senter Samu Kerevi in die besonder was meer as ʼn handvol.

Daar moet vrae oor die Sharks se senters, Lukhanyo Am en André Esterhuizen, en ook oor die heelagter Curwin Bosch gevra word. Wat die skakelpaar betref, het Cobus Reinach na sy lang aflê ʼn goeie diens gelewer, ʼn paar so-so opsies geneem maar saam met Lambie tog goeie balle agterlangs toe uitgegee.

Maar dit kom terug op foute, en heelwat daarvan, wat die KwaZulu-Natallers laat struikel het.

Puntemakers – 

Reds (13) 28: Drieë: Scott Higginbotham, Samu Kerevi 2, James Tuttle. Doelskop: Quade Cooper. Strafdoele: Cooper 2.
Sharks (16) 26 : Drieë: Jean-Luc du Preez, Tera Mtembu. Doelskoppe: Patrick Lambie 2. Strafdoele: Lambie 4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Jammer dat die Sharks na ‘n goeie begin ,baie strafskoppe begin afstaan het en met swak hanteerwerk kanse verbrou het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.