Sharks sal moet veel beter teen die sterker spanne

boland-logo-cropDit het vroeg in die wedstryd gelyk of die Sharks die vloer met die Boland Kavaliers in Wellington sou smeer, maar met ʼn stotterende vertoning, veral ná rustyd, was die eindtelling ʼn onindrukwekkende 41-20 vir die Durbaniete.

Hoewel die bonuspuntsege die Sharks met 15 punte aan die bopunt van die puntelys geplaas het, sou die Kavaliers nie te ongelukkig oor hulle tweede helfte gewees het nie. Ná rustyd het die Sharks net twee drieë kon druk teenoor die drie van die Kavaliers en net 12 punte teenoor die tuisspan se 17 aangeteken.

Goed, spanne het goeie en ook afdae, maar dit sal geoordeel op dié wedstryd veel meer van die Sharks verg om die grotes skrik te maak.

Nadat hulle rustyd 29-3 voor was, het dit hulle ʼn volle 24 minute na die omdraaislag geneem om hul vyfde drie te druk. ʼn Mens kan seker redeneer dat hulle toe effens minder dringend was.

Die aangeë was egter agterlangs deurgaans te rukkerig wat te dikwels goeie bewegings laat skipbreuk ly het omdat die ontvangers die bal dán hoog, dán op hulle voete en soms selfs agter hulle moes vang.

Daar was ook min planmatigheid en vloei in hulle spel.

Die Boland, met veel minder skietgoed en nie baie manne wat al in die Premierliga Curriebekerrugby gespeel het nie, het kort voor rustyd pootuit en teen die planke gelyk.

In die tweede helfte het die Boland gestoei, geduik, en met bietjie waagmoed onder druk uitgegee. Dit was skielik die Sharks wat lusteloos gelyk het, dalk oor die groot voorsprong.

Puntemakers –

Boland (3) 20 Drieë: Danwel Demas, Sergio Torrens, Ryan Nell. Doelskop: Theuns Kotze. Strafdoel: Nico Scheepers.

Sharks (29) 41 Drieë: Odwa Ndungane, Innocent Radebe, André Esterhuizen, Chiliboy Ralepelle, Hanco Venter, Franco Marais. Doelskoppe: Curwin Bosch 3, Garth April. Strafdoel: Bosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.