Sharks se dilemma nie Gold se skuld

John Smit (Foto: bbc.co.uk)

John Smit (Foto: bbc.co.uk)

Die Sharks is besig om in die spreekwoordelike gelaaide geweer se loop af te kyk met `n huidige negende plek op die Superpuntelys. Hulle moet ook nog teen die Bulls speel voor `n taai toer in Australasië.

Die trotse Durbanse span het al in vier eindstryde en drie halfeindstryde gespeel en was nog net in 2010 so laag op die lys. Hul seisoen het swak begin en dit het uitgeloop op hul grootste pak slae nog toe die Crusaders hulle 52-10 vermorsel het. Daarbenewens het hulle (met die verlies van die beseerde Pat Lambie en drie geskorste spelers) ook die naweek teen die Lions verloor.

As die de facto afrigter sit Gary Gold nou met die gebakte pere, maar hy het nie die pluksel gemaak nie – hy het dit geërf. Gold het dit met sy verblyf in Bath al duidelik gemaak dat die titel direkteur van rugby nie afrigting behels nie, maar die aanstelling van afrigters en die kontraktering van spelers. Dit is byvoorbeeld die rol wat Gert Smal in die Kaap en ander direkteure vervul.

Sedert John Smit se aanstelling as hoofamptenaar het die Sharks nog net rondgeval met afrigters. Eers was dit John Plumtree wat onseremonieel “gefaks” is. Smit het Brendan Venter, weliswaar tussentyds, aangestel, maar hy het net drie maande gehou voordat Jake White oorgeneem het. In dié tyd het hy tussen Kaapstad en Durban gependel.

White het Venter opgevolg nadat hy die Brumbies soos `n warm patat gelos het, en het dieselfde probleme as Gold ondervind. Hy is verseker dat hy sy eie afrigters kan werf, maar dit het nie gebeur nie. Smit het volgehou met die onervare afrigtingspan wat hy aangestel het.

Selfs White se verhouding met Smit – vir wie hy twee jaar te lank in die Springbokspan gehou het – het nie gewerk nie en hy is spoedig vort.

Brad McLeod-Henderson was tot kort voor sy aanstelling as Curriebekerafrigter in 2013 die direkteur van afrigting by Hilton College en het gehelp met die afrigting van die Sharks se o.21-span. Hy het voor sy aanstelling by Hilton in Italië en Engeland afgerig en was ook drie jaar afrigter van College Rovers wat in 2010 die  nasionale klubtitel gewen het.

Paul Anthony was Smit se afrigter op skool – soos Macleod-Henderson `n klubmaat by College Rovers was. Anthony het die suksesvolle Blou Bulle se o.19s `n aantal jare lank afgerig.

McLeod-Henderson, Anthony en Sean Everitt (agterlynafrigter, ervaring met die junior- en Vodacomspanne van die Sharks) is die afrigtingspan wat Gold geërf het toe hy `n skrale week voor die begin van die 2015-seisoen uit Japan in Durban aangeland het, pleks van twee of drie maande vroeër.

Die groot probleem is die Sharks se afdanking van Plumtree twee jaar gelede, sonder dat daar deeglik vorentoe beplan is. Die gevolg was dat die spelers oor `n kort periode by te veel base moes aanpas en te veel kultuurveranderings moes maak, en die resultate is duidelik op die veld te sien.

Hopelik gaan Gold toegelaat word om sy eie afrigtingspan vir 2016 aan te stel en die Sharks terug op die pad van sukses te plaas. Maar dalk moet `n mens nie te styf duimvashou nie …

♦ Die Sharks speel Saterdag tuis teen die Bulls. Op hul oorsese toer moet hulle die Reds, Hurricanes, Highlanders en Waratahs aanvat.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MTV ·

john smit is die verkeerde ou vir die Sharks. Hy het vir Plumtree gefire omdat hy hom nie provinsiale wou kies nie maar hy het op daai stadium vir die Springbokke gespeel (wat eintlik nie moes gebeur het nie). Smit is baie mags behep en wil sy stempel afdruk – en dit is hoe dit nou lyk.

CJAN ·

Die Sharks se rugby met al sy Springbokke is vir my net een gemors. Dit lyk net of die manne nie wil rugby speel nie. Die frustrasies onder die spelers lui tot ongeoorloofde spel omdat hulle geirriteer is. Iewers is ‘n groot skroef los en John Smit sal moet bykom.

Jan ·

John Smit rig groot skade aan by die Sharks. Pleks dat hulle hom “fire” of faks, en nie die afrigters nie !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.