Sharks se Hongkong-uitstappie kan goed loon

Dis nie ʼn baie moeilike sommetjie om te maak hoekom die Sharks se Superrugbyspan Saterdag in Hongkong teen Racing 92 van Frankryk speel nie.

Ja, daar is baie groot koste soos vliegkaartjies (ek is redelik seker dat die Sharks nie soos die Bokke in ekonomiese klas vlieg nie) vir die span, afrigters en ʼn paar bestuurslede, asook ’n paar nagte se duur hotelverblyf in Hongkong. Maar dit kan steeds ʼn baie groot meevaller wees, omdat die Sharks, asook die Franse spanne (met All Blacks soos Dan Carter in hul geledere), baie gewild oorsee is.

Daar is 40 000 sitplekke in die stadion waar die wedstryd gespeel word en die kaartjiepryse wissel tussen R460 vir die goedkoopste kaartjie tot R 1 134, waar jy glo met versnaperings en drankies bedien word.

Veronderstel daar daag 30 000 toeskouers op, sal die inkomste slegs uit kaartjieverkope sowat R18 miljoen bedra. Vanselfsprekend is daar baie ander lopende koste, maar daar is sekerlik uitsaairegte en borgskappe ook betrokke wat die beursies nog verder sal laat bult.

Vergelyk dit met die Stormers en Bulls se Superrugby-losmaker wat Saterdag in Wellington in die Boland gespeel word. Dié wedstryd sou aanvanklik in Las Vegas in die die VSA gespeel word, maar is om logistieke redes afgelas. Dit kan enigiets beteken, maar nie die Stormers of die Bulls wou meer lig daaroor werp nie.

Hoeveel toeskouers sal daar in Wellington wees? Sekerlik nie meer as 5 000 nie, want dit is gans te vroeg in die seisoen, dit gaan snikheetwarm wees (die weerburo voorspel 36 grade Celsius), die spanne is nie op volle sterkte nie en die kaartjies is nogal duur – vir ʼn losmaker – R100 vir volwassenes en R75 vir kinders. Maar dan moet die kaartjies voor die tyd gekoop word, want Saterdag betaal jy R20 meer by die hek.

Oorsese wedstryde is die gans wat die goue eiers lê en dis hoekom die Springbokke verlede jaar ʼn bykomende toets teen Wallis buite die toetsvenster gespeel het. Dis ook hoekom daar ʼn onsinnige toets in Junie teen Wallis in Amerika beplan word (slegs ʼn week voor die Engelse in Suid-Afrika gepak word) en dis hoekom die Bokke weer aan die einde van die jaar, buite die toetsvenster, glo nóg ʼn toets teen Wallis sal inpas.

Geld, geld, geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.