Sharks se nuutgevonde sukses lê in voorspelerkrag

Ox Nché is een van die Sharks se voorrysterre. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Die Sharks speel Saterdag op hul tuisveld in die kwarteindstryd van die Europese Uitdaagreeks teen Edinburgh en die momentumtrein het darem weer ʼn besoek aan Durban afgelê.

John Plumtree se troepe het verlede week vir Zebre met 47–3 op Kingspark vermorsel en dit was veral die tuisspan se voorspelers wat die Italiaanse besoekers laat harde bene kou het.

ʼn Voorry van Ox Nché, Bongi Mbonambi en Vincent Koch kan sekerlik met die beste ter wêreld saamgesels.

Nodeloos om te sê, sal Plumtree vir ʼn soortgelyke vertoning teen die Skotte hoop, want die grondslag vir hul onlangse oorwinnings word beslis deur die voorspelers gelê.

Mbonambi en sy makkers gaan weer die Sharks-skrum anker, met Eben Etzebeth (SA Rugby se speler van die jaar) wat ook in die beginvyftiental is.

“Die spelers se energievlakke is hoog en manne soos Emile van Heerden, Eben Etzebeth en Vincent Koch maak ʼn groot verskil voorlangs,” het die Springbok-haker gesê.

Volgens Mbonambi gaan die pad na ʼn moontlike eindstryd nie maklik wees nie en Edinburgh sal ʼn sterk span vir die kwarteindronde kies.

“Ons konsentreer net op een wedstryd op ʼn slag en ons wil elke keer wanneer ons op die veld draf ʼn beter vertoning lewer.”

Die wedstryd begin Saterdag om 13:30 en dit word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Werner Kok (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter en kaptein), Ethan Hooker (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Siya Masuku (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Phepsi Buthelezi (agtsteman), Vincent Thsituka (flank), James Venter (flank), Emile van Heerden (slot), Eben Etzebeth (slot), Vincent Koch (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Dan Jooste, Ntuthuko Mchunu, Hanro Jacobs, Corne Rahl, Jeandré Labuschagne, Grant Williams, Curwin Bosch en Francois Venter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.