Sharks se skietgoed te veel vir gewillige Griekwas

Daar is net eenvoudig geen keer aan die Sharks nie. Hulle het Vrydagaand in Kimberley hulle agste opeenvolgende oorwinning behaal en is feitlik verseker van ʼn tuishalfeind.

Griekwas moes dit op hulle tuisveld ontgeld. Die Sharks het met 40-22 gewen, en het ses drieë teen drie gedruk in ʼn wedstryd waar die tuisspan self met die bal gehardloop en dit effektief gedoen het wanneer die geleentheid daar was.

Die skerper hantering, ʼn span wat ongetwyfeld oor meer gehalte beskik, en die meer volkome rugby van die Sharks met rigtingverandering en ondersteuning wat Griekwas soms onkant betrap het, en ook Griekwas se eie foute, het egter die deurslag gegee.

Besit het natuurlik ook sy rol gespeel, en daarmee gepaard was die realiteit dat as jy nie besit het nie gaan jy nie gebiedsoorheersing hê nie.

Twee pragtige langafstandrieë in die laaste kwart, en nog ʼn goeie beweging wat deur ʼn onderskepping en drie deur die KwaZulu-Natallers bederf is, het gewys dat Griekwas, onder op die punteleer, kán en wíl aanval.

Daar was egter te veel foute/omkeerbesit, en hoewel Griekwas nog teoreties die halfeind kan haal, sal ʼn snaakse neerlaag of twee van die ander aanspraakmakers en volgehou seges in Griekwas se drie wedstryde nodig wees om dit reg te kry.

En eintlik, op hul vertonings tot dusver, verdien hulle dit nie …

Griquas (7) 22: Drieë: Kyle Steyn, Enver Brandt, Wilmar Arnoldi. Doelskoppe: George Whitehead 2. Strafdoel: Whitehead
Sharks (19) 40: Drieë: Marius Louw 2, Jeremy Ward 2, Ross Geldenhuys, Keegan Daniel. Doelskoppe: Curwin Bosch 5

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.