Sharks skrik in tweede helfte wakker teen Scarlets

(Foto: Scarlets/Facebook)

Wanneer ʼn rugbyspan spelers met die x-faktor het, kan hy ʼn lang paadjie stap.

Dink maar terug aan Naas Botha, Danie Gerber, Carel du Plessis en Bryan Habana.

Vrydagaand op Kingspark in Durban het die Sharks, ondanks ʼn rits spelers met die x-faktor, vir 55 minute gesukkel po, uit eerste rat te kom in hul kragmeting in die Verenigde Rugbykampioenskap teen die Walliese Scarlets.

Maar na ʼn stukkie briljante opvolgwerk deur die tuisspan se heelagter, Aphelele Fassi, wat tot ʼn drie gelei het, het die Sharks met 13 – 13 gelyk getrek.

Toe hulle in die 65ste minuut nog ʼn drie druk, het hulle die eerste keer die voorsprong geneem. Dit was die grondslag vir ʼn bonuspuntsege van 37 – 20 (rustyd 6 – 6).

Fassi het in die eerste helfte een of twee hanteerfoute begaan, maar hy het hom reggeruk en die vonk aangesteek wat ontbreek het.

Die Scarlets, sonder ʼn rits Walliese toetsspelers, het hul man (behalwe in die skrums waar hulle verniel is) verbasend goed gestaan. Twee drieë vroeg in die eerste helfte is boonop nie aan hulle toegeken nie nadat beslis is dat daar op die doellyn uitgetrap en dat Fassi sy hand rakelings voor dié van Sam Costelow gekry het op die Sharks se doellyn.

Dit is vooraf gesê dat die Scarlets se stoom sou opraak, want net soos die Suid-Afrikaanse spanne oorsee in die koue en op nat velde sukkel, gaan die besoekers ook in die Suid-Afrikaanse somers sukkel.

Maar die wedstryd was ʼn tydige wekroep vir die Sharks, want hoewel die eindtelling op ʼn maklike oorwinning dui, wag daar harde werk.

Hulle skop te veel (en boonop takties swak) en span nie hul vinnige en vaardige agterspelers genoegsaam in nie.

Op papier is hulle die talentvolste span in Suid-Afrika, maar hulle kan nie toelaat dat hul teenstanders so maklik deur hul verdedigingslyne sny nie. Ook word die spelskeppers nie voldoende ingespan nie en word daar nie genoeg driedrukkanse geskep nie.

Punte:

Haaie 37 (6): Drieë: Aphelele Fassi, Curwin Bosch, Strafdrie (7 punte), Marius Louw. Doelskop: Bosch (2), Tito Bonilla. Strafdoele: Bosch (3).

Scarlets 20 (6): Drieë: Aaron Shingler, Steff Evans. Doelskoppe: Sam Costelow, Dan Jones. Strafdoele: Costelow (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.