Sharks sorg vir Lions-nagmerrie in Johannesburg

Foto: GB Jordaan

Elke span het ’n dag waar dinge nie vlot loop nie. Maar goeiste, die Lions sou nooit in hul wildste nagmerries gedink het dat hulle 42 – 5 teen die Sharks op hul tuisveld sou verloor nie.

Op ’n koue en nat Emirates Airline Park was die besoekers meedoënloos op die aanval en veral Curwin Bosch was ’n doring in die Lions se vlees.

Bosch het in 2014 ’n skitterende Cravenweek vir die Oostelike Provinsie in Middelburg gehad en vanaand het hy met dieselfde vryheid gespeel as wat hy destyds as skoolspeler ten toon gestel het. Hy het uitstekend vanaf die merkie versnel en het talle verdedigers met sy skim-lopies gefnuik. Hy het sy Lions-eweknie, Andries Coetzee, heeltemal oorskadu.

Maar as Bosch die vonk verskaf het wat die Sharks momentum gegee het, was Makazole Mapimpi en Lukhanyo Am die olie op die vuur. Beide spelers het met hul vaart en vernuf beïndruk en het – of dan altans vanaand – gewys dat hulle die Groen en Goud werd is.

Rustyd het die Sharks ’n voorsprong van 25 – 0 geniet. Nie te sleg nie, veral as jy in ag neem dat hulle eers in die 19de minuut van die wedstryd hul eerste punte aangeteken het.

As daar egter een span in SA is wat só ’n reuseagterstand kan uitwis, dan is dit die Lions. Hulle het dit immers reeds vroeër in die reeks teen die Rebels bewys.

Helaas was vanaand hoegenaamd nie hul aand nie en Sylvan Mahuza het eers in die 78ste minuut vir hul eerste punte gesorg.

Die Lions het een drie in die wedstryd gedruk; die Sharks het ses.

Die wedstryd kan in een sin opgesom word: Die Sharks was vanaand strate beter as die Lions.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Jacques Vermeulen, Makazole Mapimpi (2), Lukhanyo Am, Thomas du Toit, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Robert du Preez (2), Curwin Bosch. Strafskoppe: Du Preez, Bosch.

Lions: Drie: Sylvian Mahuza.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Albert ·

Dit is weer die los loot siekte en spelers uit posisie speel.

Anton Kld ·

Na vandag het die Blou Kalfies dan ook Jaguares vleisie geword?

Chris ·

Lyk my dit is nie net die Lions span wat vergeet het om op te daag vir die wedstryd nie. Hulle toeskouers het ook vergeet.

Sparks ·

Swys kan nie hul motiveer nie. Kry ander hulp afrigter vi agterlyn, en los jantjies 3 wedstryde op pavijoen.

Frans C ·

Die Leeus en Bulle het nou gewys dat hul nie weet om ‘n aanvallende heelagter aan bande te lê nie.In rugby gaan dit om kombinasies.Die agterste driehoek van die Lions het misluk
terwyl die senter kombinasie nie gewerk het nie.

Voorlangs het die slotpaar en lostrio gesukkel en was die Sharks in die opsig strate beter.
Die wedstryd het Swys de Bruin met talle kopsere gelos en dit gaan moeilik wees om die
momentum op ‘n moeilike toer om te draai tensy spelers hul spelpeil drasties verhoog
en ophou om aanvallende spelers staan-staan in te wag en na wind te gryp.

Moeilik om te sê of Sharks buitegewoon goed en die Leeus eenvoudig vrot was.Net die toer sal duidelikheid na vore bring.

rollie ·

Dis nou ‘n verrassende uitslag vir my. Groot pakslae op EllisPark op ‘n nat veld teen so-so opposisie. Eish.

Bul ·

Bly stil oor die Leeus en se iets oor die stompie skande oorkant die water. Sal wil hoor van ‘n rugby kenner wat kan kommentaar lewer oor daai wannabee bok kaptein se spel en leierskap.

Boesman ·

Kom ons wees maar eerlik met mekaar. Suid Afrikaanse rugby is “vrot” Nie net die Lions nie, al die spanne. Dis “bad” mense maar dit is die waarheid. Arme Rassie wat n span wêreldbeker toe moet vat en almal sal goeie resultate wil sien. Nou sit hy nog met span keuses wat op hom af gedwing word. Sleg mense sleg!

Frans C ·

Suid Africa se rugby is soos die ‘musical chairs’ speletjie wat ons as kinders gespeel het.
Spelers verruil net so vinnig spanne en posisies,alles om hul eie posisie te verbeter.
Ek het nog altyd van die Leeus en Stormers se manier van speel gehou,maar moet eerlik wees in die Leeusspan is daar spelers waarvan ek nog nooit gehoor het nie.

Die Bulle en Stormers is sonder hul groot name ook nog maar net ‘n span.Die Sharks lyk soms goed soos teen die Leeus maar ander kere vrot.Noudat die du Preez broers en van der Merwe ook op pad is na Europa na die kompetisie of wêreldbeker as hul die span haal, gaan die Sharks in dieselfde posisie as die Leeus sit.

Dienkie ·

Ja @Boesman dit wat jy se is baie waar. Rassie sit met ‘n taaie tammeletjie om ‘n KWALITEITSPAN te kies wat gaan presteer by die Wereldbeker.

Hannes van den Berg ·

Kwaliteit van S.A. rugby stel teleur!Springbokke,proteas asook bafana bafana het een ding in gemeen………Hul gaan NERENS kom hierdie jaar!!!ALLES FEITE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.