Sharks te rats vir Rebels

Die Sharks en Rebels in aksie (Foto: Twitter)

Ten spyte van twee geelkaarte – Madosh Tambwe en Kerron van Vuuren die twee skuldiges – was die Sharks steeds te sterk vir die Rebels op hul tuisveld. Die Durbaniete het vyf drieë gedruk om die wedstryd gemaklik met 36 – 24 te beklink.

Aphelele Fassi, definitief ’n Springbok in wording, het die bal aan die rol gesit vir die besoekers toe sy goeie steekskoppie vir ’n vlieënde Makazole Mapimpi weggestuur het.

André Esterhuizen het met sy leierskap beïndruk en hy het sy fisieke teenwoordigheid laat geld toe hy vir die Sharks se tweede drie deurgebars het.

Teen rustyd het die Durbaniete ’n lekker voorsprong van 20 – 10 geniet.

Die rits geelkaarte het egter die deur vir ’n Rebels-terugvegpoging oopgemaak, maar Mapimpi, Madosh Tambwe en Curwin Bosch se drieë het daardie einste deur weer kliphard in die Melbourne-span se gesig toegeslaan.

Die Sharks en Rebels in aksie (Foto: Twitter)

Hoewel die lynstane met tye geknor het, was die Sharks brekers in die skrumsituasie. Sean Everitt en Brent Janse van Rensburg het tans ’n wenresep beet waarmee daar nie sommer gekarring moet word nie.

Boonop is spelers soos Mapimpi, Tambwe, Fassi en Sikumbuzo Notshe definitief op meriete in die span en hulle sal waarskynlik waarde tot enige ander Suid-Afrikaanse Superrugbyspan voeg.

Die Sharks is tans tweede op die Suid-Afrikaanse afdeling van die punteleer, maar hulle het twee goeie oorwinnings in Australië en Nieu-Seeland behaal. Iets waarmee die meeste plaaslike spanne normaalweg sukkel.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Makazole Mapimpi (2), André Esterhuizen, Madosh Tambwe, Curwin Bosch. Doelskoppe: Bosch (4). Strafskop: Bosch.

Rebels: Drieë: Marika Koroibete, Isi Naisarani en Anaru Rangi. Doelskoppe: Andrew Deegan (3). Strafskop: Deegan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frieda ·

Curwin Bosch is ‘n speler van formaat hy moes ‘n Sprinbok gebly het nie net vir die laaste 3 min nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.