Sharks teen Bulls: Wie se wedstrydplan is waterdig?

Die oud-Springbok Nick Mallett sê die Sharks se wedstrydplan moet die rigtingwyser vir die Springbokspan wees om later vanjaar vir Engeland en ook die All Blacks mee te troef.

Saterdag op Kingspark moet die Bulls in die Superrugbywedstryd teen die Sharks wys of daar ʼn teenvoeter daarvoor is.

Dis hoe die Sharks die Blues twee weke gelede met 63-40 geklop het (kom ons vergeet maar van die verdediging) en dis hoe die Sharks verlede week oor die Hurricanes gespoel, maar naelskraap met 37-38 verloor het. Dis ook hoe die afrigter Robert du Preez, jare gelede by Noord-Transvaal, gespeel het en hoe Jake White die Wêreldbekertoernooi in 2007 gewen het.

Maar is dit die regte pad vorentoe, of moet die Bulls (en die Lions) se wedstrydplanne nie ook die hoeksteen van sukses wees nie?

Ja, jy kan die All Blacks en Engelse troef wanneer jou voorspelers oorheers en in hul gesigte boer. Ja, jy kan hulle onder druk plaas wanneer die skakelpaar die bal voor die voorspelers hou en oor die voordeellyn kom. En jy kan hulle op die agtervoet plaas wanneer jou kragtige binnesenter die bresse slaan en kanse vir jou vinnige en vaardige buiteagterspelers skep.

Maar is dit nie dieselfde wedstrydplan waarmee Heyneke Meyer nié die All Blacks kon klop nie? En hoe Allister Coetzee wou speel, maar dit nooit kon toepas nie?

Is dit nie ook dieselfde plan wat Rassie Erasmus by Munster gevolg het, maar met 46-22 deur die Walliese Scarlets in die Pro14-reeks se 2017-eindstryd geklop is nie?

En dis ook hoe John Mitchell, wat destyds die Lions afgerig het, die Sharks se graf in die Curriebekereindstryd in 2011 gegrawe het.

Onder die afrigting van Mitchell speel die Bulls (of altans, dis wat hy by die spelers probeer tuisbring) soos die meeste Nieu-Seelandse spanne – moet nooit die basiese beginsels links laat lê nie, maar wanneer jy die kans kry, laat die bal die werk doen en gryp jou kanse aan.

Wees maar verseker, die Bulls gaan hardloop, hardloop en hardloop. En die Sharks gaan duik, duik en duik.

Of sal dit andersom wees?

Spanne –

Sharks
15 Curwin Bosch, 14 S’bu Nkosi, 13 Lukhanyo Am, 12 André Esterhuizen, 11 Lwazi Mvovo, 10 Robert du Preez, 9 Louis Schreuder, 8 Tera Mtembu, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Philip van der Walt, 5 Stephan Lewies, 4 Ruan Botha (kapt.), 3 Thomas du Toit, 2 Chiliboy Ralepelle, 1 Beast Mtawarira. Bank: 16 Akker van der Merwe, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Tyler Paul, 20 Daniel du Preez, 21 Cameron Wright, 22 Marius Louw, 23 Kobus van Wyk.
Bulls
15 Warrick Gelant, 14 Johnny Kotze, 13 Jesse Kriel, 12 Burger Odendaal (kapt.), 11 Divan Rossouw, 10 Handré Pollard, 9 Ivan van Zyl, 8 Hanro Liebenberg, 7 Thembelani Bholi, 6 Marco van Staden, 5 Lood de Jager, 4 RG Snyman, 3 Trevor Nyakane, 2 Adriaan Strauss, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Jaco Visagie, 17 Lizo Gqoboka, 18 Frans van Wyk, 19 Jason Jenkins, 20 Roelof Smit, 21 André Warner, 22 Manie Libbok, 23 Duncan Matthews.

Afskop: 17:15

Skeidsregter: Egon Seconds (SA).
Assistentskeidsregters: AJ Jacobs en Cwengile Jadezweni (albei SA).
TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Callie ·

Mallet weet meer van SA rugby as al die leunstoel kenners saam. Hy maak ook foute maar erken dit darem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.