Sharks terug in wen-water ná sege oor Ulster

(Foto: SuperSport Rugby/X)

Daar is min dinge wat meer vir ʼn rugbyspan beteken as om te wen.

Skielik is die selfvertroue terug; skielik word die wedstrydplan akkuraat uitgevoer; skielik is daar hope spangees en wen-momentum.

Dit het die Sharks Saterdagmiddag op Kingspark ervaar toe hulle na alle waarskynlikheid die verloorspook in die Verenigde Rugbykampioenskap verjaag en Ulster met 22-12 geklop het.

Dit was slegs die Sharks se tweede oorwinning in 12 wedstryde in die reeks, maar dit kan wondere vir die span se selfvertroue vorentoe beteken.

Dit was beslis nie ʼn foutlose vertoning nie; daarvoor was die speeltoestande nie ideaal nie. Dit was te warm en die humiditeit van 69% was te hoog. Dit het tot baie hanteerfoute (gladde bal) gelei en die spelers moes kort-kort water drink.

Nietemin sal die Sharks baie uit die oorwinning kan put. Hulle het geen kans om steeds vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nie, maar om vir die toekoms te bou en om hul ondersteuners (daar was Saterdag 19 000 toeskouers) terug te lok, was dit soos die spreekwoordelike manna uit die hemel.

Wat ook belangrik is, is dat die Sharks se afrigter, John Plumtree, nou weet wie sy beste spelers is en met wie hy vorentoe ʼn pad kan stap.

Daar is diepte tussen die voorspelers en agterlangs kan die vaardighede van Aphelele Fassi, Eduan Keyter, Lukhanyo Am, die nuweling-senter Ethan Hooker en die losskakel Siya Masuku die kitaar slaan.

Voorlangs het Eben Etzebeth en Vincent Koch, wat albei langs die kantlyn met beserings was, die vuur gestook.

Saam met Ox Nche, Bongi Mbonambi, Gerbrandt Grobler en Pepsi Buthelezi kan sake vorentoe klopdisselboom verloop.

Ulster se dissipline het gelol en dit was geen verrassing nie dat die kaptein, Iain Henderson, en die senter, James Hume, geel kaarte gekry het nie.

Hulle kans om die uitspeelrondes te haal het ʼn knou weg en hulle sal dit nie verder kan bekostig om nie enige bonuspunte te verwerf as hulle weer verloor nie.

Boonop is hul staatmaker-losskakel Billy Burns dalk vir maande langs die kantlyn.

Puntemakers: Sharks 22 (7): Drieë: Pepsi Buthelezi, Eduan Keyter, Bongi Mbonambi

Doelskoppe: Siya Masuku (2)

Strafdoel: Masuku

Ulster 12 (7): Drieë: Harry Sheridan, Kieran Treadwell

Doelskop: John Cooney

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.