Sharks: Van goudvissies na bielies teen Connacht

Curwin Bosch. (Foto: ANA)

Ná ’n swak eerste helfte het die Sharks met ’n warrelwindvertoning ná rustyd vorendag gekom om Connacht met 41 – 21 in Durban te klop.

Aphelele Fassi was ’n doring op die aanval en hy het die Iere se verdediging aan flarde gehardloop, terwyl Gebrandt Grobler vir twee van die tuisspan se vyf drieë verantwoordelik was.

Maar, so goed soos wat die Sharks in die tweede helfte was, so sleg het hulle in die eerste helfte gespeel.

Connacht het toe uitstekend verdedig, terwyl daar ook ’n groter dringendheid aan hul spel was. Rustyd het die besoekers ’n voorsprong van 21 – 10 geniet.

Die Sharks-spelers was vroeër vanjaar in ’n musiekvideo saam met die Drakensberg-seunskoor en duidelik het daardie choreografie gehelp: Hulle het in die laaste 40 minute met aansienlik meer ritme gespeel en Connacht moes omtrent vir jou bontstaan om al die aanvalle te probeer stuit.

As Sean Everitt se spelers vanuit die staanspoor só speel sal bitter min spanne by hulle kan kers vashou; in Suid-Afrika en Europa.

Maar net soos die Bulls is die Durbaniete ook nou eers weer oor drie weke (op 20 Mei teen Ulster) in aksie en die afrigtersgroep sal die spelers vars en honger vir wenrugby moet hou.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Gerbrandt Grobler (2), Marius Louw, Bongi Mbonambi en Le Roux Roets. Doelskoppe: Curwin Bosch (5). Strafskoppe: Bosch (2).

Connacht: Drieë: Gavin Thornbury en Caolin Blade. Doelskop: Conor Fitzgerald. Strafskoppe: Fitzgerald (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.