Sharks vergruis Skotland se Warriors

Die Sharks het ‘n reuse oorwinning oor die Glascow Warriors behaal. (Foto: Twitters/ The Sharks)

Reeds maande lank het die nodige vonk by die Sharks se rugbyspan ontbreek.

Maar Saterdagmiddag op Kingspark het die Springbokslot Eben Etzebeth in sy Sharks-debuut daardie vonk verskaf toe die Sharks die Glasgow Warriors met 40-12 in die Verenigde Rugbykampioenskap afgeransel het.

Kan een swaeltjie ʼn somer maak, lui die spreekwoord. In die geval van Etzebeth, ja, want hy was ʼn monster met sy verdediging, hantering en byna onstuitbare lopies wanneer hy met die bal gedryf het.

Die Warriors het voor rustyd nog bygehou en was in die 42ste minuut net met 12-13 agter. Hulle het die Sharks in foute gedwing en genoeg besit in die vaste fasette gekry.

Maar toe die Sharks hul rits Springbokke in die tweede helfte opstuur, was die slag geslaan.

Met Etzebeth aan die spits, het die Sharks se sogenaamde “Bomb Squad” amok gemaak. Ox Nche, Bongi Mbonambi, Carlu Sadie, Siya Kolisi en Sikhumbuzo Notshe het saam met Etzebeth die Skotse besoekers soos lammers na die slagpale gelei.

Hulle is in die skrums oordonder, Etzebeth en Reniel Hugo het hul lynstaan-ingooie bederf en hulle is agter die voordeellyn voos geduik.

Agterlangs was die losskakel Boeta Chamberlain die argitek en het hy gewys hoekom daar destyds so ʼn groot ophef van hom as skoolseun gemaak is.

Gee hom net die nodige besit en laat hom toe om met volle vryheid te speel.

Die vleuels, Anthony Volmink en Werner Kok (later ook Makazole Mapimpi wat opgestuur is), asook die heelagter Aphelele Fassi het die eerste keer na ware wedstrydwenners gelyk. Hulle het in die tweede helfte een van die beste vertonings nog deur ʼn Sharks-span op die aanval gelewer.

Die Sharks se groot toets gaan egter komende Saterdag wees, wanneer hulle teen Ulster speel.

Maar as Etzebeth en die “Bomb Squad” losgelaat word en UIster nie al die gate kan toestop nie, gaan daar net een wenner wees.

Puntemakers: Sharks 40: Drieë: Anthony Volmink (2), Bongi Mbonambi, Werner Kok, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3). Strafdoele: Chamberlain (3).

Glasgow Warriors 12 (7): Drieë: Tom Gordon (2). Doelskop: Tom Jordan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.