Sharks verloor hul eerste; Vrystaat storm steeds voort

wp logoMet die tweede oorwinning in vyf wedstryde het die WP hul kans om die uitspeelwedstryde te haal ʼn stewige hupstoot gegee – net soos die Vrystaat Cheetahs wat op Vrystaatstadion na ʼn aanvanklike gesukkel reggeruk en in veral die laaste nege  minute die OP Kings stukkend gehardloop het om 57-25 te wen.

♦  Die eerste helfte op Nuweland was reeds vol lekker rugby hoewel veral die tuisspan se dissipline nie waffers was nie. Hulle het Curwin Bosch te veel kanse gegee om hulle voorsprong te laat krimp.

Die Sharks het van ʼn 3-17-agterstand teruggeveg om rustyd 20-17 voor te loop. Hulle afronding en ondersteuning in die derde kwart was uitstekend en dit het gelykop of die WP hulle maar vir nog ʼn pak kan regmaak.

Daar was egter in dié wedstryd heelwat meer vasbyt van die Kapenaars te bespeur. Robert du Preez het op losskakel sy pa wat die Sharks afrig se hart seker seer gemaak maar ook warm laat klop.

Sy oordeel en verspreiding was goed en hy het die eerste keer die seisoen na ʼn losskakel gelyk wat met vertroue op die vlak ingespan kan word.

Die WP-voorspelers het ook hulle man teen die KwaZulu-Natallers gestaan, ondanks ʼn paar skrums waar hulle lelik verniel is en middelmatige lynstaanwerk.

Die wedstryd het sewe goeie drieë opgelewer waarvan ʼn paar seker aanspraak maak as van die seisoen se bestes dusver.

Die WP het met hulle vyf drieë ʼn broodnodige bonuspunt verdien. Die Sharks, wat met sewe punte verloor het, se verloor-bonuspunt plaas hulle ʼn enkele punt voor die Cheetahs op die puntelys. Hulle het egter ʼn wedstryd meer as die Bloemfonteiners gespeel.

Puntemakers –

WP (17) 34: Drieë: Johnny Kotze, Werner Kok, EW Viljoen 2, Kobus van Dyk. Doelskoppe: Robert du Preez 3. Strafdoel: Du Preez.
Sharks (20) 27Drieë: Jean-Luc du Preez, Rhyno Smith. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoele: Bosch 5.

♦ Die Vrystaat Cheetahs het nege drieë gedruk nadat die OP Kings in die eerste kwartier of so die pas aangegee het toe die Wittruie net nie aan die gang kon kom nie.

Teen die einde van die wedstryd was daar egter geen keer aan die Vrystaters nie met ʼn paar stukkies goeie vaardigheid en ondersteuning wat die bresse help slaan het.

Vier van hulle nege drieë is na die 71ste minuut gedruk waarvan drie in die laaste vyf minute was.

Die Vrystaat se buitesenter Nico Lee was uitstekend, maar die groot, sterk en verbasend vinnige stut Ox Nche het die derde maal in die laaste vier wedstryde verdiend die toekenning as die speler van die wedstryd gekry.

Hy was uitstekend en is ongetwyfeld bestem vir hoër louere.

♦ ʼn Mens moet jou hoed afhaal vir die OP. Die saamgeflanste span het beperkte uitstaan-spelers, min slaankrag en boonop min tyd as span gehad om vir die reeks voor te brei.

Hulle het Saterdag nooit werklik oortuig of gelyk of hulle ʼn verrassing kan veroorsaak nie, maar daar was vasberadenheid en heelwat stukkies goeie individuele spel.

Die OP se verdediging, waar hulle goed ʼn derde van hulle duikslae verbrou het, en hulle skrums is swakpunte wat reggemaak moet word as hulle iewers ʼn wedstryd wil wen.

Puntemakers

Vrystaat Cheetahs (23) 57Drieë: Nico Lee 2, Tom Botha, Tier Schoeman 2, Charles Marais 2, Niel Marais, Ox Nché. Doelskoppe: Fred Zeilinga, Marais 2. Strafdoele: Zeilinga 2.
OP Kings (10) 25Drieë: JC Greyling, Burton Klaasen, Vince Jobo. Doelskoppe: Pieter-Steyn de Wet, Kobus Marais. Strafdoel: De Wet. Skepdoel: De Wet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.