Sharks verloor weer teen ’n klein unie

Ryno Barnes en Steph Roberts

Ryno Barnes en Steph Roberts

Griekwas het die Sharks in Durban op dramatiese wyse 21-18 geklop en hul eerste sege in vanjaar se Curriebekerreeks behaal.

Die kaptein, Francois Brummer, het ’n skepdoel onder groot druk in die doodsnikke oorgeskop om sy span te laat seëvier.

Die Durbaniete het vir die tweede agtereenvolgende week teen een van die kleiner unies verloor en hulle kan net hulself blameer. Hul basiese vaardighede soos balhantering asook hul dissipline was skokkend en hul huidige wedstrydplan, as daar een is, is nie goed genoeg om die Curriebekerkroon te behou nie.

Griekwas het nie uitstekend gespeel nie en nie eens ’n drie gedruk nie, maar slegs klinies verdedig en fisiek opgedaag. Die skopstewels van Brummer en veral Gouws Prinsloo het die res gedoen.

Ongeag dié uitslag bly die Sharks op 13 punte in die vierde posisie op die puntelys.

Die eerste helfte moes sekerlik die hoogste strafskoptelling van enige wedstryd sover in vanjaar se Curriebeker gehad het. Dit kan toegeskryf word aan beide spanne wat hul gesag by die afbreekpunte wou afdwing, maar heeltemal oorgretig was en swak besluite geneem het.

Prinsloo het vyf uit sewe strafdoele in die eerste 40 minute oorgeklits.

Fred Zeilinga het met slegs een uit drie pogings pale toe geslaag.

Die tuisspan het weliswaar die enigste drie van die eerste helfte in die 25ste minuut gedruk. Jaco Nepgen het hul dryfmaalbeweging onwettig probeer stuit en daar is hoekie toe geskop. Daarna het die voorspelbare ritueel ontvou: ’n Lynstaan en Lourens Adriaanse het oorgedryf.

Die Durbaniete se gesukkel om hul opponente te tem het in die tweede helfte voortgeduur, maar ’n geelkaart aan Ederies Arendse in die 53ste minuut was ’n potensiële reddingsboei vir die Sharks.

Die Sharks het geswoeg en gesweet om hierdie voordeel te ontgin, maar al wat hulle daarvoor kon wys was ’n ekstra drie punte toe Lionel Croné in die 62ste minuut ’n strafskop oorgeskop het. Griekwas moet ook krediet kry vir hul verdediging en druk.

Prinsloo se skopvoet het in die 69ste minuut weer seker gemaak die punteverskil is sewe en die druk het op die Sharks begin oplaai.

Die Durabniete het uiteindelik in die 77ste minuut punte aangeteken toe jong Thomas du Toit vanuit ’n losskrum langs die pale oorgeduik het. Cronjé het verdoel en die telling was gelykop.

Maar Griekwas is ’n klomp kanniedode en ná ’n paar fases het Brummer die deurslaggewende skepdoel suiwer deur die pale gejaag.

Punte

Sharks 18: Drieë: Adriaanse, Du Toit. Doelskoppe: Cronje. Strafdoele: Zeilinga, Cronje.

Griekwas 21: Strafdoele: Prinsloo 6. Skepdoel: Brummer.

Geelkaart: Arendse. 

Sharks: 15 Jaco van Tonder, 14 Odwa Ndungane, 13 Paul Jordaan, 12 Heimar Williams, 11 Sibusiso Sithole, 10 Fred Zeilinga, 9 Conrad Hoffmann, 8 Lubabalo Mtembu (kaptein), 7 Etienne Oosthuizen, 6 Jacques Botes, 5 Stephan Lewies, 4 Wiehan Hay, 3 Lourens Adriaanse, 2 Kyle Cooper, 1 Thomas du Toit.
Bank: 16 Monde Hadebe, 17 Matt Stevens, 18 Marco Wentzel, 19 Johan Meyer, 20 Cameron Wright, 21 Lionel Cronje, 22 Tim Swiel.

Griekwas: 15 Gouws Prinsloo, 14 Ederies Arendse, 13 Johnathan Francke, 12 Gideon la Grange, 11 Petrus Vermeulen, 10 Francois Brummer (kaptein), 9 Tian Meyer, 8 Ruaan Lerm, 7 Carel Greeff, 6 Marnus Schoeman, 5 Jaco Nepgen, 4 Hilton Lobberts, 3 Ewald van der Westhuizen, 2 Martin Bezuidenhout, 1 Steph Roberts.
Bank: 16 Ryno Barnes, 17 Nicolaas van Dyk, 18 Hugo Kloppers, 19 Burger Schoeman, 20 RJ Liebenberg, 21 Abrie Griesel, 22 Dean Grant.

 

Skeidsregter: Lourens van der Merwe
 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.