Sharks vermorsel Zebre

Dit was regte eendeweer, koud, nat en mistroostig, maar die Sharks se rugbyspan het Sondag op Kingspark in Durban die spreekwoordelike son op hulle laat skyn toe hulle Zebre met 47-3 verwoes het om tot die kwarteindronde van die Uitdaagbekerreeks deur te dring.

Die Sharks het met hul sege seker gemaak dat hulle komende naweek weer tuis speel, dié keer teen Edinburgh in die kwarteindronde van die reeks.

Edinburgh het Saterdag seker van hul Durbanse afspraak gemaak toe hulle Bayonne, wat tiende in die Franse Top14-liga is, met 33-15 geklop het.

Maar dit gaan taai vir die Skotse besoekers wees, wat reeds op 30 Maart vanjaar met 23-13 deur die Sharks in die Verenigde Rugbykampioenskap geklop is.

Die Sharks se spel het die afgelope maand ʼn opwaartse kurwe getoon nadat hul aan die begin van die seisoen in die VRK-reeks gesukkel het.

Die oplewing is tweeledig van aard: die afrigter John Plumtree het afgesien van sy planne om grootliks op hardlooprugby te fokus en hy het Siya Masuku as losskakel gekies wat die spel takties kan oorheers en die spel reg kan lees.

Die Sharks het Zebre gewurg, voorlangs vernietig en ook met die agterlyn geslaan.

Met die Springbokvoorry van Ox Nche, Bongi Mbonambi en Vincent Koch op die voorvoet, het die Sharks ná net sowat tien minute reeds die oorhand in die skrums gekry en van toe af oorheers.

Dit het Vincent Tshituka en James Venter (flanke) en die agsteman Pepsi Buthelezi in staat gestel om die stryd om die losbal te beheer en rond te hardloop.

Die slot Corné Rahl het in die afwesigheid van die beseerde Eben Etzebeth gekook.

Agterlangs het Jaden Hendrikse en Masuku met taktiese skopwerk die Italianers in hul eie gebied vasgepen en genoeg kanse vir die agterlyn geskep.

Lukhanyo Am en die jongeling Ethan Hooker was gevaarlik in die middelveld en Werner Kok en Makazole Mapimpi het ʼn paar goeie lopies ingekry.

Puntemakers:

Sharks 47 (21). Drieë: Vincent Tshituka, Werner Kok, Corné Rahl, Aphelele Fassi, Pepsi Buthelezi, Ethan Hooker, Curwin Bosch. Doelskoppe: Siya Masuku (5), Bosch.

Zebre 3 (3): Strafdoel: Tiff Eden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.