Sharks vol foute en steeds sonder ʼn eerste oorwinning

Soos verlede week in Sydney teen die Stormers was dit vir die Waratahs weer ʼn senutergende geval van een vir jou, een vir my in hulle wedstryd teen die Sharks, maar dié keer het dit anders geëindig.

Verlede week het die Waratahs reg teen die einde teen die Stormers die wendrie gedruk.

Op Kingspark was dit wéér in die doodsnikke dat die Waratahs gaan druk het in ʼn wedstryd waar daar nooit meer as sewe punte tussen die spanne was nie.

Hierdie drie uit eie gebied twee minute voor die eindtoeter het die Waratahs die vierde keer laat gelyk trek. Die eindtelling was 24 elk en die Sharks soek nog steeds hulle eerste oorwinning nadat hulle vasgeval het teen ʼn span op wie daar min vir ʼn oorwinning verwed sou gewees het.

Boonop is daar nou ook die slegte vooruitsig vir die Sharks dat daar nou oor die volgende vier naweke twee wedstryde in Australië en twee in Nieu-Seeland voorlê.

Die Sharks was Saterdag moontlik die beste span, het die Tahs hier teen die einde stukkend geskrum, maar het tog nie die oorwinning verdien nie. Hulle het net eenvoudig nie hulle vele kanse gebruik nie – en met 20 hanteerfoute, swak oordeel en powere lynstaanwerk gaan jy nie in hierdie taai reeks hond haaraf maak nie.

Daar het ná die wedstryd ongetwyfeld harde woorde in die kleedkamer van die twee afrigters, Robert du Preez en Dick Muir, geval.

Puntemakers –

Sharks (10) 24: drieë: Lukhanyo Am (2), Robert du Preez. Doelskoppe: Du Preez (3). Strafdoel: Du Preez.

Waratahs (10) 24: Drieë: Jake Gordon, Michael Hooper, Mitch Short. Doelskoppe: Bernard Foley (3). Strafdoel: Foley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans C ·

Ai Sharks.Daar val my Superbru ‘pick’ saam met julle plat.Wedstryd van verlore kanse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.