Sharks wen aksiebelaaide Leinster-stryd

Bongi Mbonambi, die Sharks se Springbok-haker, het ’n barshou teen Leinster gespeel. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Of Leinster nou ’n jong span na Suid-Afrika gestuur het of nie, hulle is steeds die pasaangeërs op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer. En ’n oorwinning teen die sterk Ierse klub is beslis ’n groot prestasie.

Die Sharks het vanaand ’n lekker slag geslaan toe hulle die Iere met 28–23 in ’n aksiebelaaide stryd in Durban geklop het.

Makazole Mapimpi, Jaden Hendrickse, Bongi Mbonambi en Phepsi Buthelezi het almal drieë gedruk, terwyl Curwin Bosch met al vier doelskoppe in die kol was.

Tog is Leinster nie verniet die voorste span in die reeks nie. Hulle het tot op hede die meeste wedstryde weg van die huis gewen en hulle het vanaand ook in die doodsnikke van die wedstryd op die Sharks se doellyn geboer.

Maar die tuisspan het soos tiere verdedig om die wedstryd welverdiend te wen. Hulle spog nou met 51 punte en ’n plek in die uitspeelronde wink beslis vir die Durbaniete.

Net ’n vinnige waarskuwing vir die ander plaaslike spanne wat nog teen Leinster moet speel: Hulle gryp beslis elke geleentheid (maak nie saak hoe klein nie) met albei hande vas.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Makazole Mapimpi, Jaden Hendrickse, Bongi Mbonambi en Phepsi Buthelezi. Doelskoppe: Curwin Bosch (4).

Leinster: Drieë: Scott Penny en Tommy O’Brien. Doelskoppe: Ciaran Frawley (2). Strafskoppe: Frawley (3).

  • Jongste VRK-punteleer:
  1. Leinster: 61 punte
  2. Stormers: 52 punte
  3. Munster: 51 punte
  4. Sharks: 51 punte
  5. Ulster: 51 punte
  6. Glasgow Warriors: 50 punte
  7. Edinburgh: 49 punte
  8. Bulls: 48 punte
  9. Scarlets: 43 punte
  10. Connacht: 36 punte
  11. Ospreys: 34 punte
  12. Lions: 32 punte
  13. Benetton: 24 punte
  14. Cardiff: 23 punte
  15. Dragons: 16 punte
  16. Zebre: 4 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.