Sharks wil nou op Loftus wen

Thomas du Toit (Foto: Anne-Christine POUJOULAT/AFP)

Die Sharks en die Bulls raak Saterdag in ’n belangrike Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd op Loftus Versfeld slaags.

En nadat KwaZulu-Natallers die vorige kragmeting in Durban met 30–16 gewen het, sal hulle oorgehaal wees om ook sukses in Pretoria te smaak.

Sean Everitt (hoofafrigter) het ’n rits Springbokspelers tot sy beskikking met Aphelele Fassi, S’bu Nkosi, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi wat deel van ’n sterbelaaide agterlyn uitmaak.

Voorlangs lek Ox Nche, Bongi Mbonambi en Thomas du Toit waarskynlik hul lippe af om op Loftus uit te draf – skrumwerk is immers deesdae die Pretorianers se achilleshiel.

Du Toit en Mbonambi het juis in die twee spanne se vorige ontmoeting die lewe vir die Bulls-voorry moeilik gemaak.

Dan sal Siya Kolisi – SA Rugby se speler van die jaar vir 2021 – die nommersestrui vir die Durbaniete dra, terwyl Curwin Bosch en Werner Kok op die plaasvervangersbank is.

Dit is ’n sterk Sharks-span wat die pad na Pretoria sal aandurf, maar die uitgeslape Jake White het waarskynlik reeds ’n paar haainette op Loftus Versfeld gespan.

Haaie: Aphelele Fassi (heelagter), S’bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (kaptein en buitesenter), Marius Louw (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Tito Bonilla (losskakel), Jaden Hendrikse (skrumskakel), Phepsi Buthelezi (agtsteman), Henco Venter (flank), Siya Kolisi (flank), Hyron Andrews (slot), Gerbrandt Grobler (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nche (stut). Plaasvervangers: Kerron van Vuuren, Ntuthuko Mchunu, Khutha Mchunu, Ruben van Heerden, Sikhumbuzo Notshe, Grant Williams, Curwin Bosch en Werner Kok.

VRK-punteleer:

  1. Ulster: 36 punte ná tien wedstryde
  2. Edinburgh: 34 punte ná nege wedstryde
  3. Glasgow Warriors: 31 punte ná nege wedstryde
  4. Leinster: 30 punte ná agt wedstryde
  5. Munster: 29 punte ná agt wedstryde
  6. Ospreys: 26 punte ná tien wedstryde
  7. Benetton: 23 punte ná nege wedstryde
  8. Connacht: 20 punte ná tien wedstryde
  9. Cardiff: 18 punte ná sewe wedstryde
  10. Stormers: 18 punte ná agt wedstryde
  11. Sharks: 16 punte ná agt wedstryde
  12. Bulls: 16 punte ná agt wedstryde
  13. Scarlets: 16 punte ná sewe wedstryde
  14. Lions: 12 punte ná agt wedstryde
  15. Dragons: 11 punte ná agt wedstryde
  16. Zebre: 1 punt ná sewe wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.