Sharks wil op onlangse wenmomentum voortbou

Curwin Bosch. (Foto: Roman Perrocheau/AFP.)

Glasgow Warriors, die naasbeste span op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer, speel vanaand teen die besoekende Sharks op die Scotstoun-stadion.

Ná ʼn kommerwekkende geploeter op die speelveld is daar weer rugbyherlewing in Durban nadat die Sharks vier wedstryde op ʼn streep gewen het en sommer ook vir die halfeindstryd van die Europese Uitdaagreeks gekwalifiseer het.

ʼn Paar van die span se sterre – soos Eben Etzebeth, Bongi Mbonambi en Lukhanyo Am – kry nou ʼn blaaskans, maar die Sharks se afrigterskorps kan steeds op Francois Venter, Grant Williams en Boeta Chamberlain reken om die wa deur die drif teen die Skotte te trek.

Volgens Dave Williams maak dit nie eintlik saak hoe die wedstrydgroep lyk nie; ʼn goeie vertoning is steeds ʼn vereiste.

“Die wedstryd gee vir ons ʼn geleentheid om vars spelers te kies terwyl ons steeds op ons goeie uitslae van die afgelope ruk kan voortbou,” het die Sharks se assistent-afrigter gesê.

Die agtereenvolgende seges beteken ook dat die besoekende Sharks se selfvertrouebeker aansienlik voller as in die aanloop tot die seisoen is.

“Die spelers glo in hul vermoëns om die wedstrydplan op die speelveld uit te voer en ons sal op ons beste teen Glasgow moet wees.”

Die wedstryd begin vanaand om 20:35 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Boeta Chamberlain (heelagter), Eduan Keyter (regtervleuel), Murray Koster (buitesenter), Francois Venter (binnesenter en kaptein), Aphiwe Dyantyi (linkervleuel), Curwin Bosch (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Nick Hatton (agtsteman), Lappies Labuschagne (flank), Tino Mavesere (flank), Gerbrandt Grobler (slot), Corné Rahl (slot), Hanro Jacobs (stut), Dan Jooste (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: Fez Mbatha, Khwezi Mona, Vincent Koch, Emile van Heerden, Vincent Tshituka, Cameron Wright, Siya Masuku en Ethan Hooker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Hoop nie hul verloor deur nie die beste speler op vorm te kies nie, dit is immers n half eindstryd.

Niklaas ·

Is Werner Kok al in Brittanje by sy nuwe spanmaats dan ? Ek sien nie sy naam nie. En Fassi , Eben en Bongi het ook seker almal ‘n ruskans gekry. Die Sharks speel nie teen ‘n swak span nie , so dis dalks nie wys om al jou sterspelers te laat rus nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.