Sharks, WP het die binnebaan in halfeindstryde

Daar is geen kristalbal wat kan voorspel wat Saterdag in die twee Curriebeker-halfeindstryde sal gebeur nie, en ʼn mens moet jou maar tot die verlede wend om ʼn soort uitslagpatroon te identifiseer.

En dít sê duidelik dat die twee tuisspanne, die Sharks en die Westelike Provinsie, die gunstelinge is om met onderskeidelik die Blou Bulle en die Goue Leeus af te reken.

Sharks vs Blou Bulle, Kingspark, 14:30

Op Kingspark in Durban is dit die Sharks wat nog effens sidder ná die afranseling van Robert du Preez nadat hulle verlede naweek in Durban deur die WP hokgeslaan is en slegs hulle tweede wedstryd verloor het.

Die Bulle het egter die wete dat hulle in twee wedstryde vanjaar teen die Sharks met net agt en 13 punte verloor het en dat hulle heeltemal ʼn ander span is as vroeër die seisoen.

Daar is egter ook die wete dat die Blou Bulle in 2006 laas in Durban kon wen; en die statistieke wat vertel dat hulle in al die jare nog net in 2002, met die skittervertoning van die 19-jarige Derick Hougaard, op Kingspark,  ʼn enkele halfeindstryd uit drie probeerslae kon wen. In die enigste halfeind op Loftus, in 2012, het die Sharks die Ligbloues met 20-3 verneder.

Dit als is die verlede. Die toekoms Saterdagmiddag – gelukkig vroegerig in die middag voor dou die hanteerwerk sal bederf, en mits die moontlike oggend-donderstorms  nie die veld te nat laat nie – hou die belofte in van ʼn lekker wedstryd waar die Bulle se kanse grootliks in ʼn verbetering van hulle vaste fasette opgesluit lê.

Hulle het teen die Pumas swaar geleef, maar Saru se toelaat van ʼn agste speler op die bank en dus ʼn volle reserwe-voorry, kan dit verander.

Meer ervaring aan die Sharks se kant, en die gehalte van onder meer die twee briljante wedstrydwenners Curwin Bosch en Warrick Gelant, kan die wenner bepaal.

Die Sharks is seker net-net die kortkop-gunstelinge.

Spanne –
Sharks

15 Garth April, 14 Kobus van Wyk, 13 Lukhanyo Am, 12 Marius Louw, 11 Sibusiso Nkosi, 10 Curwin Bosch, 9 Louis Schreuder, 8 Daniel du Preez, 7 Jean-Luc du Preez, 6 Keegan Daniel, 5 Ruan Botha (kaptein), 4 Tyler Paul, 3 Ross Geldenhuys, 2 Franco Marais, 1 Thomas du Toit. Bank: 16 Armand van der Merwe, 17 Juan Schoeman, 18 John-Hubert Meyer, 19 Jean Droste, 20 Jacques Vermeulen, 21 Michael Claassens, 22 Tristan Blewett, 23 Odwa Ndungane.

Blou Bulle
15 Warrick Gelant, 14 Travis Ismaiel, 13 Burger Odendaal (kaptein), 12 John Jackson, 11 Johnny Kotze, 10 Marnitz Boshoff, 9 Ivan van Zyl, 8 Nick de Jager, 7 Tim Agaba, 6 Marco van Staden, 5 Aston Fortuin/Jannes Kirsten, 4 Ruben van Heerden, 3 Conraad van Vuuren, 2 Edgar Marutlulle, 1 Pierre Schoeman. Bank: 16 Johan Grobbelaar, 17 Lizo Gqoboka, 18 Jannes Kirsten/Eli Snyman, 19 Jano Venter, 20 Piet van Zyl, 21 Tony Jantjies, 22 Duncan Matthews, 23 John-Roy Jenkinson.

Skeidsregter: Quinton Immelman
Assistent-skeidsregter: Stuart Berry, Cwengile Jadezweni
Televisieskeidsregter: Christie du Preez
Afskop: 14.30

Westelike Provinsie vs Goue Leeus, Nuweland, 17:00

Hoewel die vergelykende halfeindstryde tussen die WP en die Goue Leeus eers in 1997 begin het, loop die WP gerieflik met 4-1 voor. Hulle het drie keer op Nuweland met 38-18 (1997), 43-22 (2000) en 33-16 (verlede jaar) gewen en die Leeus ook in 2012 met 21-16 op Ellispark geklop.

Die Leeus se enigste halfeind-wen was tuis in 2011 (telling 29-0).

Vanjaar se tellings in die ligawedstryde was 29-20 op Ellispark in die Goue Leeus se guns, maar hulle het met 3-30 op Nuweland groot slae gekry.

Van die eindstryde van 2014 en 2015 het elke span een gewen.

Die Goue Leeus het vanjaar vyf van hulle eerste ses wedstryde verloor, toe reggeruk en is daarna net een keer in die volgende sewe wedstryde geklop.

By die WP was dit vanjaar feitlik deurgaans ʼn wipplankryery – amper ʼn geval van wen een, verloor een.

Die WP en die Leeus het verlede naweek albei in hulle laaste wedstryde beïndruk en die uitslag hang moontlik af van welke WP-span Saterdag sal uitdraf.

Hulle sal op hul beste moet wees om die Goue Leeus uit te skakel.

Spanne  –
Westelike Provinsie
15 Dillyn Leyds, 14 Seabelo Senatla, 13 EW Viljoen, 12 Huw Jones, 11 Ruhan Nel, 10 Robert du Preez, 9 Dewaldt Duvenage, 8 Nizaam Carr, 7 Kobus van Dyk, 6 Jaco Coetzee, 5 John Schickerling, 4 Chris van Zyl (kaptein), 3 Wilco Louw, 2 Bongi Mbonambi, 1 Jacobus Janse van Rensburg. Bank: 16 Ramone Samuels, 17 Allister Vermaak, 18 Frans van Wyk, 19 Jan de Klerk, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Jano Vermaak, 22 Werner Kok, 23 Damian Willemse.

Goue Leeus
15 Andries Coetzee, 14 Aphiwe Dyantyi, 13 Rohan Janse van Rensburg, 12 Harold Vorster, 11 Courtnall Skosan, 10 Jaco van der Walt, 9 Ross Cronje, 8 Albertus Smith, 7 Cyle Brink, 6 Len Massyn, 5 Marvin Orie, 4 Andries Ferreira, 3 Ruan Dreyer, 2 Malcolm Marx, 1 Jacques van Rooyen (kaptein). Bank: 16 Robbie Coetzee , 17 Dylan Smith, 18 Jacobie Adriaanse, 19 Rhyno Herbst, 20 Marco Jansen van Vuren, 21 Sylvian Mahuza, 22 Ashlon Davids, 23 Robert Kruger.

Skeidsregter: Rasta Rasivhenge
Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs, Archie Sehlako
Televisieskeidsregter: Shaun Veldsman
Afskop: 17:00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.