Shimlas eindig Pukke se wenlopie

Die vreugdevure brand hoog in Bloemfontein ná die Shimlas die NWU-Puk geklop het. (Foto: X/Varsitybeker)

Dit was oudergewoonte ʼn aksiebelaaide Maandag se Varsitybeker-rugby met die Shimlas, Maties, Ikeys en Ixias wat hul onderskeie wedstryde gewen het.

Die Shimlas is tans eerste op die amptelike punteleer, gevolg deur Wits en die NWU-Pukke.

Shimlas klop Pukke in doodsnikke

Henri van Heerden se drie in die doodsnikke van die wedstryd het gesorg dat die Shimlas die NWU-Pukke met 35 – 26 in Bloemfontein geklop het.

Die tuisspan het ʼn uitstekende aanloop tot die wedstryd geniet om met 21 – 0 voor te loop, maar die Potchefstromers is nie verniet die verdedigende kampioen nie.

Hulle het vier drieë gedruk en skielik was die telling 26 elk. Tot en met Van Heerden se drie, natuurlik.

Dit was die Pukke se eerste nederlaag van die jongste seisoen.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Pierre Uys, Khwezi Dlamini, Siyambuka Ningiza, Siviwe Zondani en Henri van Heerden. Doelskoppe: Ethan Wentzel (3).

NWU-Pukke: Drieë: Chyle van Zyl, Ntobeko Shezi, Mpho Kubheka en Shaun-Christian Baxter. Doelskoppe: Zinedine Robinson (3).

Ikeys wen weer op hul tuisveld

Die Ikeys-rugbyspan het sy tweede oorwinning van die seisoen behaal toe hy die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 32 – 21 in Kaapstad gewen het.

ʼn Paar drieë en Ntokozo Makhaza se skopskoen het toegesien dat die Kapenaars ʼn rustydvoorsprong van 24 – 7 geniet het.

In die tweede helfte het die reënweer ʼn definitiewe invloed op die spel gehad, maar dit het nie die Ikeys van stryk gebring nie en hulle het uiteindelik ʼn gemaklike oorwinning gevier.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Riaan Genis, John Okonkwo, Jonathan Roche en Ntokozo Makhaza. Doelskoppe: Makhaza (4). Strafskoppe: Makhaza (2).

UJ: Drieë: Prince Nkabinde (2), Siyemukela Ndlovu en Sfiso Dlamini. Doelskoppe: Rowan Malgas (2).

Maties slaan ʼn slag in Stellenbosch

Maties het in die tweede helfte vlamgevat om die Universiteit van die Witwatersrand met 23 – 12 op die Danie Craven-stadion te oorrompel.

Spelskepper Juan Mostert het ʼn barshou gespeel om 13 van die tuisspan se punte aan te teken.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Siya Ngubelanga, Juan Mostert en DeWet Marais. Doelskop: Mostert. Strafskoppe: Mostert (2).

Wits: Drieë: Mark Snyman en Marno Grobbelaar.

Ixias wen in die reën

Reën het nie die Ixias gestuit om met die Universiteit van Wes-Kaapland in Kaapstad klaar te speel nie.

Die Vrystaters het ses drieë gedruk om die wedstryd met 38 – 21 te beklink nadat hulle ná die eerste helfte reeds met 33 – 7 voor was.

  • Puntemakers:

Ixias: Drieë: Jacobus Cloete, Juan Smith, Liam Prinsloo, Albertus Venter, Asekho Marubelela en Raydon Swartbooi. Doelskoppe: Smith.

UWK: Drieë: Romaud Nsombamanya, Keanuh Michaels en Conwill Conradie. Doelskoppe: Conradie (2) en Wian van der Sandt.

  • Punteleer:
  1. Shimlas: 12 punte ná drie wedstryde
  2. Wits: 10 punte ná drie wedstryde
  3. NWU-Pukke: 10 punte ná drie wedstryde
  4. Ikeys: 10 punte ná drie wedstryde
  5. Ixias: 9 punte ná drie wedstryde
  6. Maties: 8 punte ná drie wedstryde
  7. UJ: 3 punte ná drie wedstryde
  8. UWK: geen punte nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.