Shimlas swaai tans punteleersepter

Die Shimlas is tans eerste op die Varsitybeker-punteleer. (Foto: X/Varsitybeker)

Die Shimlas het hul derde bonuspuntoorwinning behaal om hul plek bó op die Varsitybeker-punteleer te verstewig, terwyl die NWU-Pukke, Maties en Ikeys ook goeie vertonings gelewer het.

Shimlas druk ses drieë in Bloemfontein

Kaptein Pierre Uys se twee geel kaarte het weliswaar sy span op die agtervoet geplaas, maar die Shimlas het steeds ses drieë in Bloemfontein gedruk om die Universiteit van Wes-Kaapland met 48–26 te troef.

Die tuisspan het ʼn rustydvoorsprong van 25–7 geniet en hy is nou twee punte vóór die NWU-Pukke op die amptelike punteleer.

  • Puntemakers:

Shimlas: Drieë: Makwande Dlamini, Francisco dos Reis, Siviwe Zondani, Nkoka Ngobe, Michiel Genies en Liyema Mgwigwi. Doelskoppe: Ethan Wentzel (5).

UWK: Drieë: Bryan Breda, Will Vraagom, Romuan Nsombamanya en Ruben Swanepoel. Doelskoppe: Conwill Conradie (3).

Maties vat vlam in tweede helfte

ʼn Sterk vertoning ná rustyd het toegesien dat Maties vir die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 54–22 in Stellenbosch oorrompel het.

Die eerste helfte het vir opwindende rugby gesorg, met die besoekers wat ʼn rustydvoorsprong van 22–19 geniet het.

Maties het in die tweede helfte net hopeloos te veel skietgoed gehad en hulle het uiteindelik sewe drieë in die kragmeting gedruk.

  • Puntemakers:

Maties: Drieë: Louw Nel (2), Vernon Matongo (2), W van den Heever, DeWet Marais en Paschal Ekeji. Doelskoppe: Juan Mostert (4).

UJ: Drieë: Prince Nkabinde, Likhaya Tengimfene en Mauritz Maritz. Doelskop: Rowan Malgas. Strafskop: Rowan Malgas.

Ikeys oorrompel Ixias

Die Ikeys-rugbyspan het sy derde tuiswedstryd gewen toe hy die besoekende Ixias met 44–7 geklop het.

Ntokozo Makhaza het twee drieë vir die wenspan gedruk, terwyl hy ook in die kol met ses doelskoppe was.

  • Puntemakers:

Ikeys: Drieë: Ntokozo Makhaza (2), Enos Ndia, Riaan Genis, Keagan Blanckenberg en Xola Nyali. Doelskoppe: Makhaza (6).

Ixias: Drie: Juan Smith. Doelskop: Natanael Young.

Arende vlieg teen Wits

Die NWU-Pukke (Arende) het vir verlede week se nederlaag teen Shimlas vergoed toe die Potchefstromers vir die Universiteit van Witwatersrand met 51–22 op die Fanie du Toit-sportveld geklop het.

Chyle van Zyl het twee drieë vir die tuisspan gedruk, terwyl Marvelous Mashimbyi as die speler van die wedstryd aangewys is.

  • Puntemakers:

NWU-Pukke: Drieë: Chyle van Zyl (2), Marvelous Mashimbyi, Arnold Vlok, Naiden Jaarts, Keano Windvogel en Zinedine Robinson (6).

Wits: Drieë: Setshaba Mokoena, Dewet Lottering en Dewet-Grant Fourie. Doelskoppe: Tireque Apolles (2). Strafskop: Apolles.

  • Punteleer:
  1. Shimlas: 17 punte ná vier wedstryde
  2. NWU-Pukke: 15 punte ná vier wedstryde
  3. Ikeys: 15 punte ná vier wedstryde
  4. Maties: 13 punte ná vier wedstryde
  5. Wits: 10 punte ná vier wedstryde
  6. Ixias: 9 punte ná vier wedstryde
  7. UJ: 3 punte ná vier wedstryde
  8. UWK: 1 punt ná vier wedstryde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.