Sien SA dan nie die gevaarligte flikker nie?

Superrugby trofeeAs enige rugbyondersteuner nog glo dat Suid-Afrikaanse rugby op die regte pad is, moet hy maar net die finale Superrugby-punteleer bestudeer.

Dit gee `n mens erg sooibrand, want dit kom mos so al vir my voor asof ons nie die aankomende lig in die tonnel raaksien nie.

Dalk bewys die Stormers my verkeerd, maar hulle is in die eerste plek baie gelukkig om in die uitspeelrondes te speel, al het hulle die SA-groep gewen en met 45 punte sogenaamd “derde” op die algehele puntelys geëindig.

Was dit nie vir Sanzar se vreemde puntetoekenning nie, sou die Stormers ook Saterdag voor die TV gesit het, want as dit van punte afgehang het, sou hulle sewende geëindig het met  die Hurricanes (66), Highlanders (53), Waratahs (52), Chiefs (48), Brumbies (47) en Crusaders (46) wat meer ligapunte het.

Dis nie net die Stormers nie, want afgesien van die Lions – wat die wyse waarop daarop in 2015 gespeel behoort te word  heeltemal omarm het – hang daar groot vraagtekens oor die ander SA spanne.

Dan moet `n mens ook bysê: Die Lions was miskien `n vars briesie wat aangenaam verras het, maar die realiteit is dat hulle in die onderste helfte van die punteleer, agtste, geëindig het; dat net die Stormers (tradisioneel sukkelaars met drieë druk)  en die onderste drie spanne, die Force, Blues en Reds, minder drieë as die Lions se 33 gedruk het.

Die vyf Nieu-Seelandse het saam 2 043 punte aangeteken, teenoor die SA spanne se 1807. Dit vergelyk nie te sleg nie, maar kom ons delf dieper. Die Nieu-Seelanders het 45 bonuspunte verower, SA net 29. Drieë-bonuspunte is 29 vir Nieu-Seeland, 20 vir Australië en `n skamele 15 vir Suid-Afrika, oftewel 23%. Die Hurricanes het nege bonuspunte vir drieë, oftewel 66% van die vyf Suid-Afrikaanse spanne se totaal.

Die Nieu-Seelanders het 237 drieë gedruk, SA net 183. Selfs met twee spanne tussen die onderste drie klop die Aussies (190) ons. (En nie net tong-in-die-kies nie: Hoeveel van Suid-Afrika s’n was rolmaaldrieë?)

SA se onderste span, die Cheetahs, het die meeste drieë van die SA spanne gedruk, 44. Nie sleg nie, maar vergelyk dit met die Hurricanes se 58, die Crusaders se 56, die Highlanders se 54,en die Waratahs se 50.

Ja, ja, ja, sal u terugkap, want van drieë afstaan? Die prentjie is ewe troebel: Die Nieu-Seelanders het 187 keer teenstanders laat deurglip, Australië 200 en SA 223.

Die Blues het tweede laaste geëindig het en was die vrot kol in Nieu-Seelandse rugby. Neem hulle swak vertoningslys (dit moet vierkant voor die deur van die breier John Kirwan gelê word) weg, en dit lyk nog meer beroerd vir die Suid-Afrikaanse spanne.

Skoonmaak in die Wêreldbekerjaar

Daar word in SA rugby (in Wêreldbekerjaar) skoongemaak. Frans Ludeke is weg by die Bulls, Naka Drotské is by die Cheetahs weg en Gary Gold rig aanstaande jaar nie meer die Sharks af nie. Boonop is die Stormers se Allister Coetzee op pad Japan toe. Watter hoofafrigter bly oor? Net Ackers by die Lions.

Die Cheetahs het eerste raakgevat deur Franco Smith met sy verfrissende idees in te span: Twee wedstryde:  een skitter-oorwinning oor die Bulls op Loftus en `n klomp drieë.

Die Lions (en nou weer die Cheetahs) speel soos daar in 2015 behoort gespeel te word. Voor doen hulle eers die basiese dinge om toe te sien dat die teenstanders nie voet in die deur kan kry nie.

Die Lions se spelers was superfiks en dit het wat hulle in staat gestel het om die bal so lank as moontlik te hou. Hulle het nie geskop omdat daar net geskop moet word nie… dit was takties en nie doelloos nie.

Die afrigters, Johan Ackermann en Swys de Bruin, het dit reggekry om `n groot groep spelers se vaardighede só te ontwikkel  dat almal op dieselfde vlak is en dat beserings dus nie `n groot rol gespeel het nie. Wie het voor die seisoen gedink dat die agterspelers Ruan Combrinck, Harold Vorster, selfs Lionel Mapoe, Elton Jantjies (weer) en Faf de Klerk Bok-materiaal is?

Ackers kon dus vrylik roteer en die Leeus vars hou … en hy het sonder ooglopende sterre die ander SA spanne laat skaam kry.

Wie gaan by die Bulls, Sharks en Stormers as afrigters oorneem? As `n mens geluister het wat Nick Mallett en Naas Botha Saterdag in die SuperSport-ateljee kwytgeraak het, gaan jou hoofpyne nog erger raak.

Vergeet van spelers wat vanjaar nog speel, vergeet van afrigters wat nog nie die paadjie gestap het nie, vergeet van 2007 se bloudruk wat jare lank suksesvol was.  Kyk maar hoe die Junior Bokke  Maandag teen Engeland vasgeval het. Toe plan A (voorspelers wat oorheers) nie werk nie, was daar g’n plan B nie.

Die spel het (baie vinnig) aanbeweeg, en stampkarrugby werk nie meer nie – selfs al bewys die Stormers (en hopelik die Bokke in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi) my verkeerd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dit is net my persoonlike mening. Ons Springbok afrigter is nie invoeling met hedendaagse spelers nie. Hy is eenogig, onseker van homself daarom dat hy homself omring met n magdom helpers vir wie hy op die einde van die dag die blaam kan pak. Sy buitelandse spelers keuse stuur n negatiewe boodskap na spelers wat elke Saterdag hul lywe op die spel sit. Hy is so status en naam bewus dat jong talent wat sy oumanne oorskadu nie in aanmerking gaan kom vir Suid Afrika nie. Hy het nog nie wakker geskrik en besef n span sonder groot name wat as eenheid en vir mekaar speel van baie meer waarde is as n span met groot name maar geen harte nie. Nee wat Meyer jy gaan nie eens die semi finale met jou keuses en pensioentrekkers maak nie

Hennie ·

Pieter jy slaan die spyker op die kop. Johan stem saam met jou, vergeet provinsialisme en kids huidige spelers plaaslik op vorm, dit sal hul motiveer om nog harder te speel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.