Sir Clive het nou ook sy mes vir Eddie in

Sir Clive Woodward. Foto: William West/AFP.

Hulle sê die pen is magtiger as die swaard, of as ’n mens rugbytaal praat, is dit gevaarliker as omgekeerde balbesit. En soos wat almal weet is dit die gevaarlikste vorm van besit.

Sir Clive Woodward skryf deesdae vir Mail Online en nadat hy vroeër sy mes vir Rassie Erasmus ingehad het, is Eddie Jones nou vierkant in sy visier.

Jones is aan die stuur van die Engelandspan wat die afgelope naweek met 25 – 13 teen Frankryk in Parys vasgeval het.

Waar die Hane se spel – hulle is tans die naasbeste rugbyspan ter wêreld – gesorg het dat die vreugdevure hoog in Frankryk brand, het Britse joernaliste gal oor Engeland se vertoning gebraak.

En Woodward is ongetwyfeld voor in dié gifpen-koor.

“Die pasvoltooide Sesnasies-reeks is ’n klinkklare bewys dat Engeland se spelpatroon verouderd is. Terselfdertyd kan Ierland en Frankryk na ’n blink toekoms uitsien,” het die voormalige Wêreldbeker-wenafrigter geskryf.

“Eddie Jones se span beskik oor baie talent, maar dit lyk asof hulle geen samehangende wedstrydplan of -struktuur volg om teen die wêreld se voorste rugbyspanne te speel nie.”

Volgens Woodward het Engeland weliswaar beter vertoon – hulle het vanjaar se toernooi in die derde plek afgesluit teenoor verlede jaar se laaste plek – maar daar is nog talle vrae wat onbeantwoord bly.

Eddie Jones. Foto: (AP Photo/Scott Heppell)

Hy meen terselfdertyd dat Jones aan niemand verantwoording doen wat genoeg kennis van internasionale rugby het nie.

“Eddie Jones rapporteer eintlik net aan homself en dit sorg al sedert sy aanstelling vir ’n wrang smaak. Dit is waar Engeland se probleme begin.”

Hy het spelers soos Ellis Genge, Maro Itoje, Joe Merchant en Sam Underhill vir hul heldhaftige vertonings in die reeks uitgesonder.

“Ondanks al die individuele briljantheid beskik Engeland nie oor die nodige aanvalsambisie om die beste spanne ter wêreld aan te vat nie. Jones glo hierdie verouderde spelpatroon is deel van Engeland se rugby-DNS, maar eintlik hoort dit in die asblik.”

Woodward het verlede jaar ook die Springbokke se spelpatroon gekritiseer.

Volgens die Engelsman is positiewe, verbeeldingryke en aanvallende rugby die pad vorentoe; nie die Suid-Afrikaners se ingesteldheid op verdediging nie.

“Ek het in afgryse na die vervelige rugby gekyk wat die Springbokke teen Australië opgedis het. Rugby is nie bedoel om op só ’n manier gespeel te word nie en ek is bly dat Australië gewen het.”

Die Britse en Ierse Leeus-reeks was nie veel beter nie en Woodward meen dat rugby binne vyf jaar “dood” sal wees as meer spanne besluit om op hierdie manier te speel.

“Die bal is jou vriend en nie ’n tikkende tydbom nie. Wat is die punt om jou beste spelers te neutraliseer deur heeltyd die bal weg te skop? Ek sal graag vir die Suid-Afrikaanse spelers wil vra of hulle ooit daarvan hou om rugby so te speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MakersMark ·

Soos gewoonlik grootmond van die kantlyn af. Sy speel en afrigting dae is verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.