Sir Clive spoel weer sy mond oor Bokke uit

Sir Clive Woodward is nie Springbok-rugby se grootste ondersteuner nie. Foto: William West/AFP.

As daar nou vir jou iemand is wat behep is met Suid-Afrika se doen en late op die rugbyveld, dan moet dit sir Clive Woodward wees.

Die voormalige Engeland-afrigter, wat die 2003‑Wêreldbeker-rugbytoernooi saam met spelers soos Jonny Wilkinson en Martin Johnson gewen het, het in sy jongste Daily Mail-rubriek gewaarsku dat die Springbokke se manier van speel die doodsklok vir rugby kan inlui.

Volgens Woodward is positiewe, verbeeldingryke en aanvallende rugby die pad vorentoe; nie die Suid-Afrikaners se ingesteldheid op verdediging nie.

“Ek het verlede week in afgryse na die vervelige rugby gekyk wat die Springbokke teen Australië opgedis het. Rugby is nie bedoel om op só ’n manier gespeel te word nie en ek is bly dat Australië gewen het.”

Die Britse en Ierse Leeus-reeks was nie veel beter nie en Woodward meen dat rugby binne vyf jaar “dood” sal wees as meer spanne besluit om op hierdie manier te speel.

“Die bal is jou vriend en nie ’n tikkende tydbom nie. Wat is die punt om jou beste spelers te neutraliseer deur heeltyd die bal weg te skop? Ek sal graag vir die Suid-Afrikaanse spelers wil vra of hulle ooit daarvan hou om rugby so te speel?”

Handré Pollard, die Springbokke se onderkaptein en losskakel, het vroeër die Suid-Afrikaners se wedstrydbenadering verdedig.

“Ons gaan aanhou om so te speel en mense is geregtig daarop om kritiek te lewer. As ’n span glo ons in hierdie benadering en dit is al wat saak maak,” het Pollard destyds gesê.

Die probleem sluip egter in as jy ’n wedstryd met hierdie ingesteldheid verloor. ’n Lelike wen bly ’n wen, maar ’n lelike verloor bly net lelik.

Die Springbokke is oorgehaal om die bordjies teen Australië te verhang. Foto: GB Jordaan.

Tog sal die Bokke waarskynlik nie nou al aan hul wedstrydplan karring nie – een nederlaag teen die Wallabies in Australië regverdig dit beslis nie.

“Australië verdien lof vir die wyse waarop hulle gespeel het; hulle was hongerder as ons. Maar ons is steeds positief en vol selfvertroue; ons werk hard en hopelik kan ons beter in die volgende wedstryd speel. Ons was al vantevore in ’n soortgelyke situasie; ons weet wat om nou te doen,” het Franco Mostert Dinsdag gesê.

Volgens Jacques Nienaber (afrigter) benader die Suid-Afrikaners die volgende drie Rugbykampioenskap-kragmetings soos uitklopwedstryde, terwyl die Wallabies se Michael Hooper sy span teen ’n gewonde Springbok gewaarsku het.

Dit sal dus oukei wees as die Springbokke nie op ’n baie aanskoulike manier wen nie. Solank hulle net weer op die wenpad kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
Suzette

AG “sir” – bly eerder stil.

Baardman

Hou nie van die man nie, maar ek stem eintlik saam. Bokke speel verbeeldinglose rugby.

Kobus

Ons speel dalk vervelige rugby soos hy se maar hoeveel driee het ons gedruk en hoeveel het hulle gedruk.Was dit nie vir Qooper nie was dit ‘n ander storie.Viva BOKKE

Robert

Hy moet die pers iets gee om oor te skryf

Anton

Ai, siestog. Gaan kyk dan maar ballet of basketbal