Sir Clive steeds ongelukkig met Rassie

Rassie Erasmus langs die veld gedurende die tweede toets. Foto: Phill Magakoe/AFP.

“Hopeloos te laat, Wêreldrugby,” is wat sir Clive Woodward in sy jongste rubriek vir die Daily Mail skryf.

Volgens die voormalige Engeland-afrigter, wat in 2003 die Webb Ellis-trofee saam met Jonny Wilkinson en kie. omhoog gehou het, het Wêreldrugby te laat op Rassie Erasmus se berugte video reageer.

SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby het verlede Donderdag ’n video van 62 minute uitgereik waar hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is en daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan die Bokkaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Veral Australië se Nic Berry het onder Erasmus se bekwame videoredigeer-vingers deurgeloop en Rugby Australië het die “aanval” onder meer as “onaanvaarbaar” bestempel.

Woodward skryf dat die video teen die tyd “ou nuus” is en dat die internasionale rugbybeheerliggaam eerder op Erasmus se teenwoordigheid langs die veld moet konsentreer.

Sir Clive Woodward. (Foto Twitter @rugbyincanada)

Die Springbok-meesterbrein se waterkaskenades het al ’n paar ondersteuners van die Britse en Ierse Leeus warm onder die kraag gehad. ’n Sarkastiese Warren Gatland het Erasmus onder meer aangeraai om net ’n bottel water te onthou wanneer hy nader draf om die spelers se dors op die veld te les.

En Woodward hou ook niks daarvan nie.

“Wêreldrugby moet eerder na sy intimiderende teenwoordigheid langs die veld kyk,” het Woodward geskryf.

Volgens die 65-jarige Engelsman kan Erasmus se wateraandra-pligte ’n invloed op ’n skeidsregter se vertoning hê.

“Hy is immers dieselfde tyd op die veld as hulle wanneer hulle belangrike besluite moet neem. Hy doen dit al sedert die wedstryd tussen die SA A-span en die Leeus en Wêreldrugby moes toe al sy stem dik gemaak het,” het Woodward gekla.

Die voormalige Ierse skeidsregter, Alain Rolland, het vantevore ook sy ontevredenheid oor die stand van sake uitgespreek.

“Dit sal egter moeilik wees om Erasmus te keer want tegnies gesproke breek die Springbokke nie een van Wêreldrugby se regulasies nie,” het Rolland egter toegegee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

MakersMark ·

Dalk moet iemand vir die Sir sê dat in die geweste beteken “Sir” nie veel nie…..England het wel die wereldbeker gewen onder sy afrigting maar sy rekord met B&IL is pateties nul uit drie toetse gewen teen NZ 2005.

Danie ·

Cry me a river!!!!! Net omdat hulle nie daaraan gedink het toe hulle afrigters was nie, nou kritiseer hulle vir Rassie

Rian ·

Ek dink dié paloeka moet Rassie as MENEER aanspreek as hy na hom verwys.

tweeling ·

Sal altyd iets uitgrawe om oor te kla, begin om mense te prys vir hulle rolle dan kry jy dalk bietjie respek by die mense.

Anoniem ·

Die Aussies beskou Rassie se video as onaanvaarbaar, maar noem niks van Berry se swak hantering van die wedstryd nie, is dit dus aanvaarbaar? Ek het nog bitter min goeie wedstryd hantering van Berry gesien. Aussie rugby is al geruime tyd nie van die beste nie, so kry maar gerus eers julle huis in orde Aussies.

Jacobus ·

Het Sir Clive ook kommentaar gelewer oor ‘n voormalige Engelse speler, Laurence een of ander iemand wat die pers gebruik het en in groot bitterheid beweer die skeidsregter in WB finaal is omgekoop. As skeidsregters hulself soos Zuma bo die wet plaas gaan daar gevolge wees. Terloops Gatland het begin deur die TV skeidsregter verdag te maak. Sjoe, karma bly ‘n bokker! Vir jare is die Cheetahs uit kompetisies geblaas omdat dit nie SARU se agenda gepas het nie.
Kom nou Sir Clive – om die media te gebruik as platform herinner ons baie aan ons eie Sir Juliaas.

Vrijburger ·

Persoonlik skaam ek my vir Rassie se ‘woke’ mentaliteit van slagoffer speel.
Die “… didn’t feel respected at all” is ‘n ‘woke’ juweeltjie uit die handboek.
Wat is volgende, die raskaart?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.