Sir Clive treur oor verspeelde Leeus-kanse

Die Britse en Ierse Leeus het die reeks met 2-1 verloor. Foto: GB Jordaan.

Volgens sir Clive Woodward moes die Britse en Ierse Leeus beter besluite in die afgelope naweek se beslissende toets teen die Springbokke geneem het.

Die 65-jarige afrigter, wat in 2003 die Webb Ellis-trofee saam met Engeland omhoog gehou het, meen die Leeus moes nie met elke strafskop ’n aanvallende lynstaan probeer afdwing het nie; soms is dit ook in orde om drie punte met die skopskoen aan te teken.

“Nadat die Leeus een drie met ’n rolmaalbeweging gedruk het, moet ’n mens verwag dat die Springbokke dalk die volgende keer ’n bietjie meer voorbereid daarop sal wees,” het Woodward in sy Daily Mail-rubriek geskryf.

En soos almal weet, Bok se kind staan nie sommer meer as een drie per wedstryd af nie. Teenstanders (onder wie die All Blacks) kon sedert 2019 nog net 13 drieë in 16 toetse teen die Suid-Afrikaners druk.

“Ja, Suid-Afrika se benadering tot ’n kragmeting is dalk beperk, maar die span beskik oor die uitsonderlike vermoë om in die belangrike oomblikke van ’n wedstryd goed te speel.”

Sir Clive Woodward. (Foto Twitter @rugbyincanada)

En een só ’n oomblik was die verskyning van Morné Steyn in die tweede helfte.

“Hy was met ’n rede op die plaasvervangersbank: Om laat in die wedstryd strafskoppe oor die dwarslat te jaag.”

Volgens Woodward is Steyn weliswaar nie meer die speler van ouds nie (hierdie video is dalk ’n goeie teenargument), maar hy is steeds ’n uiters akkurate stelskopper met senuwees van staal. Dit is nie aldag dat dieselfde speler in twee agtereenvolgende Leeus-reekse met die wenstrafskop vorendag kom nie.

Terselfdertyd glo hy dat die toer vir min hoogtepunte gesorg het en dat die opwarmingswedstryde ’n grap was, juis omdat daar bitter min Springbokke in aksie was.

“Ek glo as die gehalte van die teenstand in Suid-Afrika, behalwe dan vir toetse, nie gewaarborg kan word nie, moet die Leeus dit dalk oorweeg om vooraf eerder drie of vier wedstryde in Argentinië te speel.

“Dieselfde geld natuurlik vir die volgende toer na Australië in 2025 – waarom nie ook ’n paar wedstryde teen Fidji of Japan nie?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jack Russ1 ·

Julle is nou maar net nie so goed soos wat julle wil voorgee nie. 4 lande teen 1 en julle kan nogsteeds nie wen nie. Vat dit op die ken en probeer volgende keer harder

Michael ·

Juis omdat dit 4 lande teen 1 is dat SA altyd die gunsteling teen hulle moet wees. Hulle speel net elke 4 jaar saam so vir hulle om teen SA te wen behoort altyd ‘n skok te wees

Anoniem ·

Die Leeu spelers spel gereeld saam en teen mekaar in hulle eie kompetisies en het boonop baie meer oefen tyd en voorbereidings wedstryde as die Bokke gehad. Ek is net spyt dat Owen Farrel nie behoorlik op sy plek gesit kon word nie.

MakersMark ·

Britse rugby pers en bestuur darem verby suur. Kritiseer van bokke se spelpatroon tot verby Rassie en die waterdra planne tot by die mentaliteit van die bok spelers. Bottom line in hulle het gevou toe dit getel het onder bokke se fisiese aanslag en klipharde mentaliteit. Al die slim praatjies en plannetjies van nul gekom. Selfde as in RWC 2007 en 2019. Uiteindelik deur wil om te wen en spierkrag geklop. Niks so lekker as om ‘n bok skrum vorentoe te sien gaan nie en drie meter verder ref se hand in die lug……en Morras skop hom oor want Morras mis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.