Sir Ian McGeechan kies sy Bokke-vangers

Die Skotse legende, sir Ian McGeechan. Foto: Twitter.

’n Britse en Ierse Leeus-toer is een van die hoogtepunte op die rugbykalender. Om jouself teen die beste van Brittanje te meet is iets waarvan elke rugbyspeler droom.

Cheslin Kolbe het vroeër gesê dat hy eerder die Boktrui teen die Britse Leeus sal wil dra, as die Blitsboktrui in die Olimpiese Spele. Dít is hoe belangrik só ’n toer geag word; hulle is immers net elke 12 jaar in Suid-Afrika.

En hoewel die wêreldwye Covid-19-pandemie vir baie onsekerheid sorg, het sir Ian McGeechan sy eie beginspan vir die eerste toets teen die Springbokke gekies. En vreemd genoeg het hy glad nie plek vir die charismatiese Alun Wyn Jones nie.

McGeechan ken beslis sy Britse Leeus-storie. Hy was as speler deel van die toere in 1974 en ’77, terwyl hy die hoofafrigter in 1989, ’93 en ’97 was. Hy was ook aan die stuur van sake toe die Britte in 2009 na Suid-Afrika getoer het.

Volgens die Britse media sal die huidige Leeus-afrigter, Warren Gatland, beslis na die name op die spanlys kyk; bloot omdat dit McGeechan se beginvyftiental is.

Die 73-jarige voormalige Skotse speler het drie Walliese spelers, drie Skotte, twee Iere en sewe Engelsmanne in sy beginspan. Die Engelse slot Maro Itoje sal die span aanvoer.

Daar is g’n plek vir Wallis se Alun Wyn Jones nie. Foto: AP Photo/Aaron Favila)

Ierland se James Ryan is die ander slot in die span, wat beteken dat daar nie plek vir Wyn Jones is nie.

“Itoje is my kaptein. Ek dink die Leeus kan beslis ’n gedugte eenheid onder sy vurige leierskap wees. Ek glo dat hierdie span oor meer as genoeg slaankrag in Suid-Afrika sal beskik,” het hy gesê.

McGeechan se beginspan: Stuart Hogg (Skotland), Anthony Watson (Engeland), Jonathan Davies (Wallis), Manu Tuilagi (Engeland), Liam Williams (Wallis), Owen Farrell (Engeland), Gareth Davies (Wallis), Rory Sutherland (Skotland), Jamie George (Engeland), Tadhg Furlong (Ierland), Maro Itoje (Engeland, kaptein), James Ryan (Ierland), Jamie Ritchie (Skotland), Tom Curry (Engeland) en Billy Vunipola (Engeland).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die Britse en Ierse leeus-toerspanne sorg gewoonlik vir goeie rugby.Tog sê dit vir my nie veel van Noordelike halfrond rugby nie,want jy het spelers van 4 lande nodig om een land te klop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.